GEORGE NUUS - DA-wyksraadslid Brendon Adams, het gisteraand tydens ’n regstreekse uitsending op Facebook bekendgemaak dat hy by die PA (Patriotic Alliance) aansluit. Die party se president, Gayton McKenzie, het die geleentheid gelei.
Adams was die wyksraadslid vir wyk 17 en ’n burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en mobiliteit.
PA-lede het hierdie afkondiging vreeslik geniet en deurentyd kommentaar gelewer oor Adams, oftewel ‘Stam’, soos hy bekendstaan, se aansluiting by die party.
Hierdie stap volg kort na voormalige DA-raadslid Marchell Kleynhans, se bedanking by die DA. Kleynhans is ook nou ’n splinternuwe lid van die PA. Beide was wyksraadslede, dus sal twee tussenverkiesings volg.
Vir die DA beteken dit dat hulle tans slegs 25 van die 55 setels in die raad het. Met die ACDP se stem, as koalisievennoot, het hulle nou 26 stemme. Die DA het dus hul meerderheid in die George-raad verloor.
Adams het sy diep bande met die Khoi as rede aangevoer vir sy skuif na die PA. “Ek het besluit om die PA te join nadat ek deur Gayton McKenzie gevra is om ’n stem vir die Khoi te wees. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want as ’n leier in George moet ek George eerste stel en baie mense is bang dat ons mooie dorp George vervalle gaan word. Dit gaan nie.
“Ek doen ’n beroep op die Afrikaners om saam met die Khoi te loop en vir almal te wys dat ons saam kan werk. Ek stel ongelukkig nie belang om burgemeester te word nie, maar ek sal seker maak dat die een wat wel burgemeester word, George nie sal vernietig nie. Dit belowe ek alle inwoners van George.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’