GEORGE NUUS - Matriekleerders, ouers en enkele onderwysers van Hoërskool Outeniqua was behoorlik in mekaar se hare toe ’n groot hoeveel leerders se eksamennommers verlede Vrydag, met die viering van hul laaste amptelike skooldag, teruggehou is.
Die leerders se onnet voorkoms is glo die rede vir al die drama.
Seuns met ’n effens langer kuif is blykbaar oor die kole gehaal, en die een dogter se vals wimpers - ’n oorblyfsel van haar matriekafskeid - was onder die sondebokke.
Millicent Merton van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het by navraag kommentaar oor die situasie gelewer: “Graad 12-leerders is steeds onderhewig aan skoolrëels totdat hulle hul laaste vraestel skryf. Die skool het nie eksamennommers van leerders weerhou nie. Leerders is versoek om aan die skool se uniformbeleid te voldoen.”
Skoolhoof Christo Vorster het alle navrae na die WKOD verwys.
24-uur voor D-dag
Al die leerders het wel hul nommers Maandag 20 Oktober ontvang. Dit was egter ’n dag voor die eksamens begin, en van die ouers wat buite die dorp woon moes spesiaal hul kinders terugbring skool toe, om hul nommers te kry.
“Dit was óók nie sonder drama nie,” het die ma vertel. Blykbaar was daar ’n paar pa's wat warm onder die kraag was.
“Ek is so omgekrap hieroor. Die kinders is op die vooraand van die grootste eksamen van hul skoolloopbaan, en nou moet hulle hieroor stres. Dit is onredelik, onnodig en onregverdig.”
Volgens die ma was daar ’n boks propvol eksamennommers, en nog ’n boks wat halfpad vol was, wat nog uitgedeel moes word na verlede Vrydag. Sy het die getal kinders op sowat 50 geskat, maar volgens haar seun was dit veel meer.
’n Ander ma, wat in ’n ander provinsie woon, het in gekruide taal verduidelik hoe sy oor die saak voel. Van die kinders wat geïmpliseer was, gaan tuis in die koshuis.
“Daar is ook verskillende maniere om met die kinders te kommunikeer,” het ’n ouer gesê.
“Is dit nou werklik nodig om bombasties en ongeskik te wees? Om die kinders te boelie? Die kinders is op hul laaste dag verneder. Dit los ’n bitter smaak in ’n mens se mond.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’