GEORGE NUUS - Adjunk¬leier van die Vryheidsfront Plus in die Wes-Kaap en 'n George-stadsraadslid, adv. Gert van Niekerk, het nog nie ‘n enkele oproep van die DA ontvang nie.
Dinge lyk redelik benard vir die DA, wat tot onlangs die regerende party in die George-raad was.
Kort na mekaar het twee DA-raadslede, Marchell Kleynhans en Brendon Adams – beide wyksraadslede en lede van die burgemeesterskomitee – die draad gespring na die PA (Patriotic Alliance).
Sedert 2021 was die VF Plus en die DA mekaar goedgesind, en was daar 'n sterk koalisie tussen die twee partye. Hierdie samewerking het egter verlede jaar Augustus tot ‘n halt gekom, toe die DA eerder ‘n samewerkingsooreenkoms met Icosa wou vorm.
“Ons [VF Plus] het 4 setels in die George-raad. Hulle [die DA] het hulself gesnoeker met daardie besluit,” het Van Niekerk gesê. “Nou is hulle nie eens ‘n raad sonder ‘n meerderheidstem nie, hulle is in die minderheid.”
Volgens Van Niekerk is die idee van ‘n regering van plaaslike eenheid – dus samewerking met ander opposisiepartye soos die PA en ANC - nie van die tafel af nie. Dit is iets waaroor die party se nasionale leierskap sal moet besin. “Dit is wat ons op die oomblik in Oudtshoorn doen, en dit werk!” het Van Niekerk gesê.
In Oudtshoorn is Johan Allers die burgemeester (VF Plus), die onderburgemeester is Jongilizwe Tyatya (ANC) en die Speaker van die raad is Suzanne Jansen (PA).
“Mense bel my en vra: ‘Hoekom help julle nie die DA nie?’ Daardie stap moet egter nie van ons kom nie, maar van die DA. En hulle is tans tjoepstil,” het Van Niekerk gesê.
Op ‘n ander noot hou dié wat weet hul asems op, want daar is allerlei gerugte dat nog 2 DA-raadslede lus het vir die PA. Ons sal maar moet wag en kyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’