SAKE NUUS - Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, het by 'n sakeontbyt verlede week in George gesê die groep het R16 miljard beskikbaar om te belê, maar daar is nie beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika nie, buiten in infrastruktuur.
Durand was op Donderdag, 23 Oktober, die gasspreker by die jaarlikse Selzer Developing Consultants-sakeontbyt wat by Hawthorn Boutique Hotel gehou is. Hy het onder andere gesels oor die herstrukturering van Remgro se portefeulje sedert 2019 wat die maatskappy nou in 'n gunstige posisie geplaas het met goeie vooruitsigte.
Met verwysing na Suid-Afrika se power ekonomiese groei het hy gesê die risikopremie verbonde aan belegging in die land het 'n groot impak. 'n Belegger moet 6 tot 7% groter opbrengste maak om vir hierdie risiko te vergoed.
"As jy voel dit [jou bates] kan van jou af weggevat word, en jy kan nie jou intellektuele eiendom beskerm nie … dan gaan jy nie in die land belê nie. Die plaaslike mense belê ook nie en wanneer dit gebeur, skep dit nie vertroue vir die buiteland nie. Op die oomblik is daar ongeveer R2 triljoen se bates wat deur 'n beleggingstaking teruggehou word."
Remgro, eienaar van Mediclinic, het wel vertroue in die Tuinroete. "Die nuwe Mediclinic in George gaan 'n wonderlike toevoeging tot die area wees. Ons het drie hospitale in die streek - Plettenbergbaai, Oudtshoorn en George. Wanneer die nuwe Mediclinic in Mei volgende jaar open, gaan ons 350 spesialisbeddens, 72 spesialiste en meer as 620 personeel in die streek hê."
Durand het gesê die stand van die ekonomie word weerspieël in die groot getalle mense wat afskaal op mediesefondsplanne, wat baie duur geword het. Die enigste groei wat ondervind word, is in die staatsmediesefonds.
Hy is van mening dat die nasionale gesondheidsversekeringsplan van die regering egter nie deurgevoer sal word nie omdat hy nie die vermoë of die geld het om dit te implementeer nie, en die plan is onkonstitusioneel.
Hy het beklemtoon dat migrasie na die Wes-Kaap voortdurende stygings in lewenskoste veroorsaak. In Stellenbosch het eiendom so gesog geraak dat onderwysers en dosente nie meer kan huis koop nie en buite die dorp moet woon. Hierdie tendens kan slegs verhoed word deur dienslewering op munisipale vlak elders in die land te verbeter.
Van sy kant af werk Remgro tans saam met die regering om verbetering te probeer bring in energieverskaffing, met die gevolg dat die privaat sektor die afgelope twee jaar 350 mense ingestuur en 120 000 werkure ingesit het om Eskom om te draai.
Remgro het ook 'n digitalegetuienis-eenheid op die been gebring wat selfoonontledings in kriminele sake moontlik maak, wat noodsaaklik is in die oplos van bedrogsake en deur die Nasionale Vervolgingsgesag gebruik word. Remgro wil aan die Internasionale Monetêre Fonds bewys dat die land sake met betrekking tot geldwassery kan oplos en dus van die gryslys afgehaal kan word.
Thys van Zyl van Everest Wealth was die ander spreker en het gesels oor beleggingsmoontlikhede by die maatskappy en die plaaslike ekonomiese toestande.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
                 
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                