Update
GEORGE NUUS - George se oudste inwoner, Johanna Carolus, oftewel Tittie Henna van Blanco soos sy alom bekendstaan, is in die ouderdom van 102 jaar oorlede.
'n Besoek in 2016 van die Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, het daartoe gelei dat Tittie Henna vir sowat 'n jaar lank die vreugde van 'n nuut geboude huis in Vloedstraat kon geniet. Madikizela was destyds geskok oor die omstandighede waarin Tittie Henna geleef het. Hy het sy belofte gestand gedoen en vir haar 'n splinternuwe huis gegee. Sy is jare lank versorg in die huis waarin sy 'n honderd jaar gelede gebore is, maar die huis was nie meer in 'n leefbare toestand nie.
Tittie Henna se 102de verjaarsdag is vanjaar op 26 Julie saam met vriende en familie by haar nuwe huis in Blanco gevier. Die George Herald het berig oor die spesiale geleentheid, wat deur die George-munisipaliteit gerëel is.
Carolus woon al haar hele lewe op Blanco. Sy word oorleef deur haar jongste suster, Eva Carolus, haar seun Ronald (74) en haar versorger, Muriel de Villiers, wat die afgelope 52 jaar na haar omgesien het.
Die munisipale direkteur van behuising, Charles Lubbe, het gesê die munisipaliteit is in rou gedompel met die heengaan van Tittie Henna," veral omdat die blye dag nog vars in ons geheue is waartydens eienaarskap van haar eie tuiste aan haar toegeken is.
"Die huidige strategie het ten doel dat ons senior burgers heelwat vroeër in aanmerking kom vir behuisingsaangeleenthede en die beleid word dienooreenkomstig hersien," het hy gesê.
"Ons innige simpatie aan die naasbestaandes van Tannie Tittie Henna."
Lees vorige artikels hier:
- Tittie Henna vier 102de verjaarsdag
- Inwoner vier 102de verjaarsdag
- Oumagrootjie (101) verhuis vir 1ste keer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'