Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Johanna Carolus (101), oftewel Tittie Henna soos sy bekend staan, slaap voor die einde van die week in haar eie, splinternuwe huis.
Dié tannie van Kretzenshoop in Blanco is sowat 'n jaar gelede, net voor haar 100ste verjaarsdag, tydens 'n besoek van die Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, 'n nuwe huis belowe.
Madikizela het sy belofte gehou en die amptelike oorhandiging het Maandagoggend plaasgevind.
Carolus sal vandeesweek haar intrek neem saam met haar seun, Ronald Carolus (74) en hulle versorger, Muriel de Villiers.
Tittie Henna is op 30 Junie 1916 in 'n huisie in Vloedstraat, Kretzenshoop, gebore.
Sy het haar lewe lank in die huis gewoon.
Haar suster, Eva de Villiers (90), woon in 'n houthuisie aan die onderkant van die erf.
Madikizela sou tydens 'n besoek in Augustus verlede jaar die kaart en transport van die huis aan Tittie Henna oorhandig, maar kon dit nie oor sy hart kry nie aangesien die woning in so 'n swak toestand was.
Ndileka Patience Booi, die areakommissaris van die departement korrektiewe dienste in die Suid-Kaap, gesels met die media oor die projek. Die huis is deur George-gevangenis gebou.
Die bou van haar nuwe huis was 'n projek wat deur verskeie rolspelers verwesenlik is.
Gevangenis van George korrektiewe dienste het die huis gebou, George-sakekamer het die projek gekoördineer, die diensorganisasie Eden Lions het die huis versier en daagliks kos aan die bouers verskaf, terwyl verskeie privaat instansies en individue ook bydraes gemaak het.
Madikizela het gesê hy is opgewonde oor die oorhandiging, maar terselfdertyd hartseer dat dit 'n jaar geneem het om die projek te voltooi.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het die reuse- behoefte aan huise in die Wes-Kaap beklemtoon.
"In die provinsie benodig 'n halfmiljoen gesinne huise.
"Ons kan slegs sowat 18 000 gesinne per jaar van huise voorsien. So hierdie is 'n groot probleem."
Hazel Mzamo, 'n hoofdirekteur van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, gesels met Tittie Henna voor haar nuwe voordeur. Bobby, die huishondjie, is deel van die geselskap.
Die minister het George-burgemeester Melvin Naik gevra om 'n indaba te reël (wat hy self graag wil bywoon), met die oog op 'n vennootskap tussen die owerheid en sakelui om die behuisingsnood in George te bespreek.
Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela aan die woord.
Lees vorige artikels:
- Oumagrootjie (101) kry haar eie huis
- Versorger kry verrassing op haar verjaarsdag
- 100-jarige se huisie skok minister
- 100 jaar onder dieselfde dak
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'