GEORGE NUUS - Samesyn met koffie en kuns het nuwe betekenis gekry deur 'n groothartige inisiatief, Die Anties Bring Hoop, wat as deel van 'n landwye toer op 4 Julie in George kom draai.
Die hoofdoel van hierdie projek is om geld in te samel vir boervroue in droogte-geteisterde gebiede.
Terselfdertyd kry vroue die kans om iets te doen wat heerlik is, soos om te gesels, koffie te drink en iets te eet, en natuurlik kunstig te verkeer.
'n Gemengede mediakunsklas by Bossa (Outeniqua Lifestyle Centre) om 09:30 op Saterdag 4 Julie, gee plaaslike ondersteuners die kans om saam met "die tannies" te kuier.
Die span reis deur verskeie dorpe in Suid-Afrika en bied gratis kunsklasse aan boervroue as deel van hul uitreikaksie. Die geld wat deur borgskappe, skenkings en hul BackaBuddy-veldtog ingesamel word, word aangewend om die projek moontlik te maak en die vroue te ondersteun.
Die groep se verbintenis met George strek reeds oor verskeie jare. Hulle het voorheen jaarliks die dorp besoek om kunsklasse aan die kinders van Môreson-kinderhuis aan te bied. Hierdie besoeke het gelei tot 'n hegte bande met die gemeenskap en is die rede waarom George steeds deel van hul toerroete vorm.
Tydens hul besoek op 4 Julie word wel 'n bedrag gevra om petrolkoste te dek, want George is die verste punt van dié toer wat in die noorde van die land begin. Kaartjies is beskikbaar deur Quicket.
Die publiek kan die projek ondersteun deur skenkings aan die BackaBuddy-veldtog, 'n Oproep tot Hoop: Vrou tot Boervroue, wat geld insamel vir boervroue in droogtegeteisterde gebiede.
Vir meer inligting kontak Mariette by 082 085 9492.
Stigter en hoof van die projek, Mariëtte Beukes (links) saam met 'n ondersteuner by een van hul menigte kunsoggende.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’