Ek het nog nie self ‘n aardbewing beleef nie - tot die Kiewiete se verstomming. Ek is darem al mooi vertel wat om te doen, sou daar een wees.
Nieu-Seeland is op die linkeronderpunt van die ‘Ring of Fire’, ‘n deel (in die vorm van ‘n perdehoef) wat die Stille Oseaan kuslangs omlyn. Dit wil sê van Nieu-Seeland links op na Papoea-Nieu-Guinee, Indonesië, die Filippyne, Maleisië, Taiwan, Japan en dan noord en regs om by die Verenigde State van Amerika en weer al met die kus langs na Mexiko, Peru en Chili. Die gedeelte is omtrent 40 000 km lank. Sowat 90% van die wêreld se aardbewings en 81% van die wêreld se grootste aardbewings vind in hierdie gedeelte plaas - aldus Google.
Maar ek weier om bang te wees net omdat iets dalk kan gebeur. Manlief beweer hy het al ligte skuddings gevoel en die prente wat letterlik in elke huis skeef teen die mure hang is nogal bewys hiervan, maar ‘n werklike aardbewing is ons gelukkig tot dusver gespaar.
Die inwoners van Canterbury en meer spesifiek Christchurch het seker nou al hulle regmatige porsie van aardbewings gehad. Daar was die 7.1 in September verlede jaar en toe op 22 Februarie om 12:51 die 6.3. Laasgenoemde klink heelwat ligter, maar die verwoesting en verwarring wat dit meegebring het was hartver-skeurend.
Natuurlik het ek als op TV dopgehou en saam met baie ander wat dit ook gekyk het, gehuil.
Ons was darem al in Christchurch en die mense daar is maar soos al die mense in Nieu-Seeland vriendelik en hulpvaardig. Een vrou wat uit ‘n gebou gered is se broer is langs haar dood terwyl sy sy hand vasgehou het. Daar is by die 180 mense dood.
‘n Week later versoek die eerste minister, John Key, ‘n landswye twee minute van stilte. Op 1 Maart werk ek in ‘n groot kettingwinkel (soortgelyk aan Game) toe dit aangekondig word. Vir twee minute los die kliënte hulle inkopies en ons los die kliënte en staan stil en dink aan almal wat ly as gevolg van die aardbewing, en weer loop die trane.
Nieu-Seeland is ‘n klein landjie, as een deel ly, ly almal.
Die Afrikaanse Christen-kerk in Christ-church se lidmate en predikantspaar is ongeskonde.
Baie van ons lidmate in Tauranga het (uit die aard van hulle werk) gaan uithelp om die plaaslike inwoners ‘n breek te gee. Almal dra ruim by.
Die koste om Christchurch te herbou is aanvanklik op $20 biljoen gereken, maar dit blyk nou nader aan $30 biljoen te wees. Iets wat ‘n klein landjie soos hierdie kwalik kan bekostig. Daar is darem vir ‘n groot deel daarvan begroot.
Ek bekommer my nogtans in my enigheid oor die belasting en dienste en wie weet wat nog anders wat dalk weer opgaan. Die regering wil ook besnoei op bestaande uitgawes en projekte en almal is bang dat dit op dinge soos die begrotings vir die onderhoud van die dorpe gaan wees - ons sal seker eers later hoor.
Hoe dit ookal sy, ek haal my hoed af vir die Kiewiete. Te midde van al die harwar seëvier ‘Kiwi ingenuity’. Een van die tv-kanale voer ‘n onderhoud met ‘n man wat saam met ‘n vriend van hom ‘n puttoilet in sy erf gemaak het. Al die bure, wat ewe veel in die knyp was, nader hom toe om hulle ook uit te help. Maar man, die ou doen ‘n netjiese joppie met ‘n mooi houtboks bo-op en alles! Hulle praat met een van sy ‘kliënte’, ‘n bejaarde vrou, seker naby aan 70. Haar en haar buurman se toilet is so rug teen rug aan weerskante van die heining. Nou wil die onderhoudvoerder weet of die tweetjies darem so af en toe met mekaar gesels. Die tannie sê toe nee, maar sy hoor hom party oggende fluit. Kosbaar!

The left hand tower tumbled in during the earthquake.