GEORGE NUUS - 'n Nuwe prosedure wat dit moontlik maak om 'n nier oor te plant waar die skenker se bloedgroep onversoenbaar is met dié van die ontvanger, het vir Alred du Plessis van George 'n nuwe lewe moontlik gemaak.
Du Plessis (39) het eindstadium nierversaking gehad en sou moontlik vir jare vir 'n nier moes wag, maar danksy die nuwe prosedure kon hy sy swaer, Henro Nel, se een nier op 18 November in 'n oorplantingsoperasie in die Universiteit Kaapstad Privaat Hospitaal ontvang. Du Plessis se bloedgroep is O-positief en Nel is A-positief.
Du Plessis se dokter, Alda Vermeulen, 'n nefroloog en hoof van die kliniese eenheid by Interne Medisyne by die George-hospitaal, sê die gemiddelde wagtyd vir 'n nier is vyf tot tien jaar, want die pasiënt moet gewoonlik wag dat 'n geskikte skenker sterf. Hulle probeer dus lewende skenkers vir pasiënte vind. Die kanse is beter om 'n geskikte skenker te vind deur die gebruik van 'n spesiale filter (genoem Glycosorb-filter of immuno-absorbsiekolom) wat bloedgroepteenliggaampies verwyder.
Spesiale immuno-onderdrukkende protokol en nuwe tegnologie
Vermeulen verduidelik: "Vir nieroorplanting word die skenker en ontvanger se bloed getoets (kruispassing) vir verskeie merkers of teenliggaampies (nie net bloedgroep nie) om te bepaal of die ontvanger teen die skenker se bloed of weefsel sal reageer.
"As daar 'n positiewe reaksie is (positiewe kruispassing), is die skenker nie geskik om te skenk nie. In die verlede kon mense met bloedgroep O (universele skenker) slegs organe ontvang van O-positiewe skenkers, weens natuurlike teenliggaampies wat teen nie-eie* ABO-antigene reageer. Voor die ontwikkeling van Glycosorb-kolomme kon pasiënte met bloedgroep A slegs niere ontvang van skenkers wat bloedgroep O of A was; bloedgroep B van skenkers wat bloedgroep O of B was; en bloedgroep AB (universele ontvanger) kon niere ontvang van enige bloedgroep.
"Met die gebruik van 'n spesiale immuno-onderdrukkende protokol en nuwe tegnologie wat immunoadsorpsie gebruik deur middel van 'n spesiale anti-A of anti-B Glycosorb-filter (immunoabsorpsiekolom) wat die bloedgroepteenliggaampies verwyder, is dit nou moontlik om 'n oorplanting te doen ongeag die skenker se bloedgroep."
Vermeulen sê die eerste ABO-onversoenbare oorplanting is in 2001 in Swede gedoen, terwyl die eerste ABO-onversoenbare oorplanting in Afrika in Januarie 2023 by Groote Schuur uitgevoer is onder die gespesialiseerde sorg van prof. Zunaid Barday (oorplantingsnefroloog).
Ander ABO-onversoenbare nieroorplantings
"Die tweede pasiënt in Suid-Afrika wat 'n ABO-onversoenbare oorplanting ontvang het, was een van my pasiënte wat in Mosselbaai woon, wie se vrou (bloedgroep A) in Februarie 2023 'n nier vir hom geskenk het (bloedgroep O), ook onder prof. Barday se sorg. 'n Ander pasiënt van Sedgefield het in Maart 2024 'n nier ontvang." Albei hierdie operasies was by die Kaapstad Universiteit Privaat Hospitaal.
Sy sê volwasse ABO-onversoen-bare nieroorplantings in Suid-Afrika word tans slegs by Groote Schuur en die Kaapstad Universiteit Privaat Hospitaal uitgevoer.
"Hoewel die gebruik van die Glycosorb-immunoabsorpsiekolom die koste van die oorplantingsprosedure verhoog, is nieroor-planting uiteindelik goedkoper as langdurige dialise, en dit verbeter pasiënte se lewenskwaliteit en lewensverwagting aansienlik. Nog 'n goeie - of selfs beter - opsie vir pasiënte wat 'n lewende skenker het wat nie 'n pasmaat vir hulle is nie, is gepaarde nieruitruiling. In so 'n stelsel 'ruil' verskillende ontvangers en hul skenkers met ander onversoenbare pare, sodat ontvangers 'n geskikte pasmaat kan vind."
Du Plessis was vir drie jaar op dialise en sê daar was vir hom geen toekomsvooruitsig nie, maar sedert die operasie voel alles vir hom soos 'n droom. "Alles proe anders, alles ruik anders, alles lyk anders." Hy sê sy swaer het sy lewe verander en hom weer 'n kans gegee om voluit te lewe. Hy sal hom ewig dankbaar bly.
Du Plessis se vrou, Yozelde, sê die hele gesin gaan 'n nuwe lewe hê. Hulle het drie kinders. "Niemand kon vir ons 'n groter geskenk gegee het nie. Die boot en ski's staan vir ons en wag. Die kinders is baie opgewonde."
Die twee pasiënte is slegs 10 dae na die operasie, op Vrydag 28 November, ontslaan.
"Gewoonlik bly die ontvanger vir twee tot drie weke in die hospitaal, maar Alred se toestand het gou verbeter na die oorplanting. Voor die operasie was sy kreatinienvlakke 1 300, maar dit het dadelik na die operasie geval na 800 en nou is dit onder 200."
Die egpaar sê hulle deel graag hulle storie sodat dit ander mense wat 'n orgaanoorplanting nodig het, kan bemoedig en hoop gee om makliker 'n skenker te vind.
* Nie-eie ABO-antigene is A- of B-suiker-/proteïenmerkers op rooibloedselle wat jou immuunstelsel as vreemd eien wanneer dit nie natuurlik in jou liggaam voorkom nie. Dit kan die produksie van teenliggaampies en moontlik ernstige reaksies veroorsaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’