Sponsored Content
SAKENUUS - Al mag dit soos 'n ruim gebaar voel om 'n huis of ander eiendom te skenk, kan dit onverwagte finansiële verpligtinge meebring, veral wanneer dit by SARS kom.
Baie Suid-Afrikaners neem aan dat omdat hulle 'n huis besit, hulle dit eenvoudig aan 'n geliefde kan skenk sonder enige koste.
In werklikheid is die skenking van onroerende eiendom streng gereguleer en gaan dit dikwels gepaard met beduidende finansiële en regskwessies.
Dit is van kardinale belang dat Suid-Afrikaners die werklike gevolge van eiendomsdonasies verstaan.
Wat tel as 'n skenking?
Suid-Afrikaanse wetgewing definieër 'n donasie as die gratis beskikking van eiendom, insluitend die oordrag van eienaarskap of die afstand van 'n reg sonder om enigiets in ruil te ontvang (artikel 55(1) van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962). As die persoon wat die eiendom ontvang enige vorm van betaling of ruil gee, word die transaksie nie meer as 'n donasie geklassifiseer nie.
Skenkingsbelasting: Die grootste finansiële impak
Die belangrikste koste wat met die skenking van eiendom gepaardgaan, is skenkingsbelasting, wat deur die skenker (die persoon wat die eiendom gee) betaalbaar is. Volgens artikel 64(1) van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 word Suid-Afrikaanse belastinginwoners belas as volg:
- 20% van die waarde van die eiendom, en
- 25% van die waarde van die eiendom wanneer die skenking meer as R30 miljoen is.
Alhoewel individue tot R100 000 per jaar belastingvry mag skenk, doen hierdie toelae min om die las te verminder wanneer hoëwaarde-eiendom oorgedra word. Skenkingsbelasting word van krag sodra alle wettige formaliteite vervul is (artikel 55(3) van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962). Vir onroerende eiendom vereis dit 'n geskrewe skenkingsakte en die registrasie van die eiendom by die betrokke aktekantoor.
Afslagverkope veroorsaak steeds skenkingsbelasting
Om 'n eiendom teen 'n verlaagde prys te verkoop help jou nie noodwendig om skenkingsbelasting te vermy nie.
Artikel 58(1) van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 bepaal dat, waar 'n eiendom oorgedra word vir onvoldoende vergoeding (ver onder markwaarde), word die verskil tussen die billike markwaarde en die koopprys as 'n donasie beskou.
Dus, waar 'n ouer hul huis verkoop wat gewoonlik R 2 500 000 werd is, aan 'n kind teen 'n verminderde prys van R 1 000 000, sal hulle steeds skenkingsbelasting op die tekort van R 1 500 000 moet betaal. Dit sou daartoe lei dat die ouer aanspreeklik is om R 280 000 aan SARS te betaal vir genoemde skenkingsbelasting. Daarbenewens bereken SARS ook oordragbelasting en kapitaalwinsbelasting met behulp van die markwaarde, nie die afslagprys nie. Dit beteken dat "goedkoop gesinsverkope" finansieël riskant kan raak.
Beperkte vrystellings
Sommige donasies is vrygestel van skenkingsbelasting, insluitend dié wat tussen eggenote en aan sekere openbare of regeringsorganisasies gemaak is (artikel 56(1)). Die meeste eiendomsdonasies tussen familielede, soos ons voorbeeld van ouers wat 'n huis aan hul kinders skenk, is egter ten volle belasbaar.
Gevolgtrekking
Al lyk dit dalk ruimhartig of finansieël strategies om eiendom te skenk, blyk dit dikwels duurder en meer ingewikkeld as verwag, te wees. In baie gevalle kan dit goedkoper en eenvoudiger wees om die eiendom teen markwaarde te verkoop of dit deur 'n testament oor te dra.
Enigiemand wat 'n eiendomsdonasie oorweeg, moet professionele oordrag- en belastingadvies inwin om duur en onbedoelde gevolge te vermy.
Hierdie artikel is slegs bedoel vir algemene inligtingsdoeleindes en is nie regsadvies nie
Artikel deur: Jasmine Jacobs (LLB) – Kandidaat Prokureur

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
