GEORGE NUUS - Minstens vyf politieke partye gaan deelneem aan die munisipale tussenverkiesing in wyk 20 en vier partye oorweeg nog deelname.
Ofskoon die tussenverkiesing eers oor meer as 'n maand, op 17 Julie plaasvind, is daar nou reeds groot belangstelling.
Die wyk het kort voor die nasionale en provinsiale verkiesing vakant geraak nadat die dienende wyksraadslid, Mercia Draghoender, bedank het en by Good aangesluit het. Draghoender was 'n DA-lid.
Een van die partye, die EFF het reeds sy kandidaat aangewys. Hein Scheepers, streekkoördineerder van die party, het gesê Theo Windvogel gaan die party se vaandel dra.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê nominasies vir kandidate het reeds gesluit. 'n Aankondiging oor die DA-kandidaat sal gemaak word na die party se keurpaneel gesit het.
Darryll Sauer, ANC-voorsitter in George, het gesê die party sal beslis 'n kandidaat hê. "Daar behoort in die volgende paar weke duidelikheid oor ons kandidaat te wees."
Virgill Gericke van die PBI het gesê die party gaan ook staan en die kandidaat wat die PBI se vaandel sal dra se naam sal in die nabye toekoms bekend gemaak word.
Bazil Petrus van Good het gesê die party is in die proses om 'n kandidaat aan te wys. "Ons sal later die naam bekend maak.
Mercia Draghoender
Onder die partye wat oorweeg om deel te neem is 'n politieke party wat nog nooit aan 'n verkiesing deelgeneem het nie, die African Redemption Democracy (ARD)."
Marchell Kleynhans, direkteur van plaaslike regering en plaaslike regeringsverkiesings van ARD, het bevestig die party ondersoek moontlike deelname. Kleynhans, wat voorheen 'n senior DA-lid in George was, het gesê hy is nie van plan om weer self direk by die politiek betrokke te raak nie. Hy help die party bloot in 'n administratiewe hoedanigheid.
Adv. Gert van Niekerk sê die VF Plus oorweeg sy opsies en sal later 'n aankondiging oor deelname maak.
Die ACDP het ook nog nie besluit nie. "Ons oorweeg dit en kyk na ons opsies," het Johan du Toit gesê.
Dawid Kamfer van Icosa, het gesê die party het al gesels oor moontlike deelname. "Icosa sal vroeg aanstaande week 'n aankondiging maak of hy gaan deelneem al dan nie."
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'