Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sac-raadslid Bazil Petrus het verlede Vrydag bedank as 'n raadslid van die George-raad. As streekkoördineerder van die Good-party, met Patricia de Lille as leier, wil hy graag al sy aandag aan die komende verkiesing skenk.
"Ek wil voltyds fokus op die verkiesingsveldtog en dit is moeilik om dan steeds my verpligtinge as raadslid na te kom," het Petrus gesê.
Verlede Donderdag was Petrus se laaste raadsvergadering in die George-raad, maar sy sitplek gaan nie lank leeg bly nie.
Voormalige DA-wyksraadslid Mercia Draghoender, gaan hierdie posisie oorneem. "Die aansoek om haar posisie as Sac-raadslid is tans by die OVK," het Petrus gesê. Indien die aansoek goedgekeur word, beteken dit sy sal tot 2021 in die George-raad dien, onder die vaandel van Sac. Draghoender het onlangs haar bedanking as DA-raadslid bekend gemaak. Ook sy is nou 'n lid van Good. Petrus het verduidelik dat die setel in die raad steeds Sac heet, omdat dit is hoe dit geregistreer is. "Tog is Sac eintlik nou Good. Al die Sac-lede is nou lede van Good - ons kiesers en ondersteuners," het Petrus gesê.
G'n sticky plaster vir dié lippe
Draghoender is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging wat op haar wag. Sy is verlig dat haar dae by die DA verby is en sien uit na die tussenverkiesing wat ná die nasionale verkiesing, in wyk 20, Borcherds, gaan plaasvind. Haar bedanking uit die DA het beteken dat 'n munisipale tussenverkiesing gehou moet word.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het ook op sy beurt gesê dat die DA uitsien na die tussenverkiesing in wyk 20, berig Eugene Gunning, George Herald-joernalis. "Dit sal die kiesers 'n geleentheid gee om ‘n oordeel oor hul voormalige wyksraadslid te fel," het hy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Draghoender voel egter dat sy nog 'n groot rol in dié gemeenskap kan speel. "Ek moet vir my mense praat, jy kan nie sticky plaster op my lippe plak nie," het Draghoender gesê.
Die Sac-party, waarvan Petrus die stigter en leier is, is twee maande voor die plaaslike verkiesing in 2016 op die been gebring. "Dit was vir ons 'n groot prestasie om 'n setel in die George-raad te bekom, omdat die party so kort bestaan het," het Petrus gesê.
Sedert 2000 het Petrus verskeie termyne in die George-raad gedien. Hy is 'n voormalige DA-raadslid. Hy was later ook 'n ANC-raadslid, alvorens hy die Sac-party gestig het. Van die posisies wat hy beklee het sluit in burgemeester, onderburgemeester en speaker van die raad. Meer onlangs was Petrus die voorsitter van die artikel 79-komitee vir die GIPTN (George Integrated Public Transport Network). Hy het ook op twee artikel 80-komitees gedien, vir menslike nedersettings en siviele dienste.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'