Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Korrekte spelling was aan die orde van die dag tydens die WOW-spelfees se distriksfinale op Saterdag 2 September wat by Pacaltsdorp Primêr plaasgevind het.
Talle skole van so ver as Beaufort-Wes, Knysna, Albertinia, Murraysburg, Oudtshoorn, Mosselbaai en Riversdal het die distriksfinale van die spelkompetisie bygewoon.
Die Afrikaanse spelkompetisie wat strewe om prestasie by leerders te versterk, laat gr.1 tot gr.10-leerders toe om hul spelvermoë ten toon te stel.
Die WOW-spelfees word deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch (US) aangebied.
Jeneen Wallow, WOW-spelfees projekkoördineerder van US, sê die deelnemers en die onafhanklike beoordelaars was vanjaar goed voorberei.
Wallow hoop die spelfees sal in die komende jare goeie groei toon, sodat meer skole daarby kan baat vind.
"Ons hoop om die spelfees tot nasionale vlak op te bou deur die aantal skole en die onderskeie provinsies wat aan die spelfees deelneem te vermeerder, om sodoende leerders se Afrikaanse woordeskat uit te brei en effektiewe taalgebruik aan te moedig."
Elke leerder het 'n sertifikaat vir deelname ontvang. Boekpryse is aan die topdrie leerders oorhandig, en die topvier dring deur na die provinsiale spelkompetisie wat Saterdag 9 September by US sal plaasvind.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: WOW-spelfees se provinsiale finaliste
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD INTERN
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'