Update
GEORGE NUUS - Charlotte Frans (48), 'n vrou van Oudtshoorn, het op 20 Mei uit die George-hospitaal vermis geraak nadat sy glo 'n operasie ondergaan het.
Caroline Damons (70), Frans se ma sê, haar dogter het skielik siek geraak en was verskeie kere hospitaal toe waarna sy uiteindelik op 20 Mei na George-hospitaal oorgeplaas is.
"Sy het glo bloeding op die brein gehad en hulle het haar dieselfde dag nog in George geopereer. Sy was in ICU en ek was by haar.
"Sy was vreeslik deurmekaar en daarom het hulle haar voete en hande vasgebind. Sy moes op 'n manier losgekom het."
Damons het gesê sy het aan die slaap geraak en toe sy wakker word was Frans weg.
Frans se broer Raymond was na die voorval by die George-hospitaal. Volgens hom kan daar op die videobeeldmateriaal gesien word hoe sy uit die intensiewesorgeenheid loop en by die voordeur van die hospitaal uitstap.
Charlotte Frans se familie is, van links: Tersia Manuel (suster), Caroline Damons (ma), Raymond Frans (broer) en Johnathan Jansen (man). Foto: Liezl van Niekerk
Volgens hom was daar ook nie sekerheidswagte by enige van die deure nie.
"Ons is regtig bekommerd oor haar. Ons weet nie eens of sy lewe nie. Dit is winter en dit is koud," het hy gesê.
Charlotte se man van die afgelope 35 jaar sê hy is geweldig bekommerd oor sy vrou.
"Ek hoop regtig ons kry haar. Dit is vreeslik om te dink wat sy dalk als moet deurmaak."
Frans en haar man het ook 'n kind saam.
Die voorval is by die George- en Oudtshoorn-polisie aangemeld. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, weet hulle nie waarom Frans die hospitaal verlaat het nie.
"Die polisie is oor die voorval ingelig en daar word sedertdien na die pasiënt gesoek. Die hospitaalbestuur is in verbinding met die familie."
Indien enigiemand weet waar die pasiënt is, kan hulle ao. Westraad by 082 722 2010 of ao. Hardnick by 072 210 3449 skakel.
Lees 'n vorige artikel: Vermiste persoon - kan jy help?
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'