Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kampvegters vir die regte van inheemse volke sou vanoggend voor sonsopkoms die oorskot van vyf oermense in afsonderlike grafte by Kaptein Dikkop se graf in Pacaltsdorp begrawe het.
Dit is voorafgegaan deur 'n vas- en waaktydperk wat Dinsdagaand op die George-museum se perseel begin het. 'n Tradisionele hut van takke en grasmatjies is daar opgerig waarin die oorskot vir die nag gehou is. Die deelnemers het by 'n groot vuur daarnaas gewaak, gesing en inheemse musiek gespeel.
Woensdagoggend het hulle die beendere in 'n optog deur Yorkstraat na Pacaltsdorp gedra, begelei van polisielede en verkeersbeamptes asook lede van die Pacaltsdorp-ryskool op perde. Die optog is gekenmerk deur 'n gevoel van 'n tikkie heimwee, maar ook gemeensaamheid en blydskap oor die finale rusplek waarmee hulle hul voorouers kon eer.
'n Tweede nagwaak by die oop grafte is gisternag, Woensdag, gehou gevolg deur die teraardebestelling in die vroeë oggendure. Niël Hartman, een van die deelnemers, het gesê, "Ons is nou tevrede. Dit was 'n vreugdevolle gebeurtenis, want ons voorsate se oorskot het uiteindelik 'n menswaardige begrafnis gekry." Dit is die eerste begrawing van menslike oorskot in 'n provinsiale program van die Wes-Kaapse departement van kulturele sake en sport wat in Junie by die George-museum deur minister Anroux Marais van stapel gestuur is.
Die departement het vir hierdie doel menslike oorskot uit versamelings by verskeie museums onttrek. Die beendere wat in Pacaltsdorp begrawe is, is vir jare bewaar in die George-, Groot-Brak- en Mosselbaai-museums. Die begrafnis was 'n private geleentheid waar geen media of kameras toegelaat is nie.
Kyk 2 videos hieronder:
Kraalopskop
Om die gebeurtenis te vier, word 'n kraalopskop Saterdag 14 Julie by die Drif in Blanco by die Witfontein-natuurreservaat gehou waar daar rieldansers, 'n rielorkes en langarmorkes sal optree. 'n Eland, springbokke en die skape wat by die graf geslag is, word gaargemaak vir die geleentheid. Dit is gratis en oop vir almal.
Mense wat wil oorbly, word genooi om tente te bring. Kontak Neil Carelse by 074 643 9860 vir meer inligting.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'