Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Plaaslike groep aktiviste vir inheemse regte wil die oorskot van 'n Boesman en twee Khoi's wat vir jare in die George-museum bewaar is, begrawe.
Volgens Neil Carelse, die hooforganiseerder, beplan hulle 'n tradisionele seremonie vir Donderdag 12 Julie in die Watsonsdorp-omgewing.
Oorblyfsels van twee inheemse mense wat onderskeidelik tans in die Groot-Brakrivier- en Mosselbaai-museum gehou word, sal ook hierheen gebring word om begrawe te word. "Die oorblyfsels in die George-museum bestaan uit die kopbeen van 'n !xam-boesman asook twee Khoi-kopbene, een met 'n koeëlgat in, wat dui op hoe die inheemse mense gejag is. Hulle was aanvanklik saam met beendere van diere uitgestal," sê Carelse.
"Ons plaas al van 2012 af druk op die Wes-Kaapse regering om toestemming te gee dat die beendere begrawe word. Ons is onlangs ingelig dat ons dit nou wel kan doen."
Die begrafnisseremonie sal voorafgegaan word deur tydperke van vas voordat die oorskot vervoer gaan word. Die aand van 28 Junie sal 'n groep mense by die Mosselbaai-museum se oorskot vas voordat dit vroegoggend op 29 Junie na die museum in George gebring word. Dieselfde ritueel volg op 5 Julie by die Groot-Brakrivier-museum en vyf dae later, op 10 Julie word dit ook by die George-museum herhaal voordat die oorblyfsels na die plek geneem word waar dit begrawe sal word. Die grond behoort aan publieke werke.
"Daar gaan ons ook deur die nag vas en die oorblyfsels begrawe voor die son opkom. Om deurnag by die liggaam van 'n dooie te vas, is deel van die Namas se ritueel die dag voordat die persoon begrawe word."
Volgens Carelse is die herbegrafnis 'n simboliese gebaar vir inheemse mense om die verlede te begrawe en met vergifnis die toekoms tegemoet te gaan.
Kyk 'n video hieronder.
'n Eland, vyf springbokke en vyf skape gaan ook geslag word. Die skape word by die vyf grafte geslag en hul bloed in die grafte gegooi. Die menslike oorskot word in kruie en dan in die springbokvelle toegedraai en bo-op die bloed in die grafte geplaas. Eden-distriksmunisipaliteit moet hier teenwoordig wees om te verseker dat dit aan gesondheidstandaarde voldoen.
Volgens Debra Sauer, mediaskakelbeampte van die George-munisipaliteit, het die raad besluit om 'n gedeelte van die onkoste van die bokke te betaal.
Tania Colyn, 'n woordvoerder van die departement van sport en kultuur, het bevestig dat die departement die oorskot uit die museum se versameling onttrek het vir die doel om herbegrawe te word.
Gevra of die departement 'n finansiële bydrae vir die geleentheid sal maak, het sy gesê die proses is nog in 'n beplanningsfase en die begrotingsimplikasies sal aangespreek word sodra 'n program gefinaliseer en logistiek bepaal is. Carelse sê hulle is baie opgewonde oor die gebeurtenis. "Die oneer wat aan die geraamtes - ons mense - gedoen is, word deur God gebruik om 'n volk te herstel wat besig is om te herrys. Hierdie begrafnis is deel van 'n kulturele revolusie sonder wapens."
Groot opskop
Op die Saterdag ná die begrafnis, 14 Julie, volg 'n groot "kraalopskop" van 09:00 tot 22:00 waar die geslagte diere en inheemse disse gaargemaak sal word. Daar sal rielgroepe en kitaarknypers optree en mense sal kan langarmdans. "Dit gaan die grootste inheemse opskop nog ooit wees," sê Carelse.
Vir meer inligting, bel hom by 074 643 9860.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'