Update
GEORGE NUUS - Die oë het gerek oor 'n skermutseling tussen die George-burgemeester en 'n raadslid in die voorportaal van die eerste burger se kantoor.
DA-raadslid Cecil Noble en burgemeester Melvin Naik was Dinsdag 27 November net na 12:00 in 'n driftige woordewisseling betrokke op die tweede vloer van George-munisipaliteit. Raadslid Mercia Draghoender en 'n werknemer in die burgemeester se kantoor, Peter Jacobs, het tussenbeide getree om te keer dat die twee mekaar te lyf gaan.
'n Icosa-raadslid van die Garden Route-distriksraad, Theresa Fortuin, word by 'n vroeëre onderonsie met Noble betrek.
Wetstoepassingsbeamptes is ook ontbied. Die gebeure volg na 'n vergadering deur 'n groep inwoners van New Dawn Park (NDP) met die burgemeester belê is. Noble het blykbaar in die doodsnikke van dié vergadering met nóg inwoners van NDP by Naik se kantoor aangekom. Noble is ook uitgenooi om die vergadering by te woon, maar het glo aan die NDP-groep se leier, Daleen Valentine, gesê dat hy ander verpligtinge het. Hy was volgens inligting besig in sy wyk waar hy waterdigtingsplastiek aan inwoners uitgedeel het weens die reën.
Volgens Valentine het die paar inwoners wat saam met Noble aangekom het, driftig met Naik begin praat. Fortuin, ook 'n inwoner van New Dawn Park, het haar by die groter groep geskaar wat 'n amptelik afspraak met Naik gehad het. Fortuin het aan die George Herald gesê sy was daar in haar hoedanigheid as'n inwoner van New Dawn Park, en nie 'n raadslid nie.
Sy het glo een van die inwoners herken wat later saam met die ander groep daar aangekom het en vir die inwoner gesê dit is jammer hulle het nie die vergadering met Naik bygewoon nie. Fortuin het gesê dat die wyksraadslid (Noble) ook na die vergadering genooi was.
"En toe is dit aan in Japan! Noble het sy vinger in my gesig gedruk en vir my herhaaldelik gesê: 'Jy roep nie my naam nie!'" het Fortuin gesê. "Hy was wild en ek het bedreig gevoel. Ek is getraumatiseerd deur die voorval."
Noble en Naik het kort hierna in 'n woordewisseling betrokke geraak voor 'n lid van die publiek, amptenare en wetstoepassingsbeamptes. Omstanders het toe ingegryp die situasie ontlont. Fortuin was toe reeds na die George-polisie om 'n klag te lê.
Oproerige inwoners het verlede Donderdag voor hul wyksraadslid se huis betoog en geëis dat hy vervang word. Foto's: Michelle Pienaar
Volgens Valentine is hulle deur die onderburgemeester, Charlotte Clarke, aangeraai om die gebeure op skrif te sit en in te dien. Dit sal aan die George-speaker voorgelê word.
New Dawn Parkers het verlede week tydens 'n vergadering met Naik gesê dat raadslid Noble hulle met hul probleme na Theresa Fortuin stuur.
Die George Herald het sedert verlede week nog nie terugvoer van Noble ontvang nie.
Die kantoor van die burgemeester het met navraag bevestig dat Naik 'n ontmoeting gehad het met die groep NDP-inwoners wat verlede week voor Noble se huis betoog het: "Die ontmoeting was deur die inwoners versoek. Die burgemeester is nooit deur die verteenwoordigers van NDP bedreig nie. Geen verdere kommentaar nie."
Daleen Valentine (regs) lig die inwoners se griewe tydens 'n vergadering verlede week by die New Dawn Park-gemeenskapsentrum, terwyl burgemeester Melvin Naik (links) geduldig luister. Foto: Michelle Pienaar
Burgemeester Melvin Naik.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'