Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Die wyksraadslid van New Dawn Park in Pacaltsdorp, Cecil Noble, het verlede Donderdag soos 'n groot speld verdwyn toe ieder en ’n elk na hom soek tydens 'n betoging voor sy huis. Oproerige inwoners het voor hul wyksraadslid se huis betoog en geëis dat hy vervang word, aangesien hy blykbaar "geen rol in hul lewens speel nie".
Hulle het onder meer beweer dat hy hulle met hul probleme na die Icosa-raadslid (van die Garden Route-raad), Theresa Fortuin, stuur. Fortuin woon ook in New Dawn Park. Hul frustrasie hou verband met probleme met riolering, 'n tekort aan behuising, jare lange wagtydperk vir huise en baie moeilike lewensomstandighede.
Die George-burgemeester, Melvin Naik, het ingestem om ontevrede inwoners van New Dawn Park later dieselfde middag te woord te staan. Naik en 'n paar afgevaardigdes van siviele ingenieurswese het probeer om inwoners se gemoedere te kalmeer.
Soos vroeër die oggend, was daar weereens geen teken van die wyksraadslid, Cecil Noble, nie. Die George Herald het sedert verlede week nog nie terugvoer van Noble ontvang nie. Kommentaar van George-munisipaliteit word verwag.
Dinge raak woes
Die onlangse reën het veroorsaak dat die wonings van heelwat gesinne onder water was. "Ons kinders se klere is nat, alles is nat. Ons kan nie so leef nie," het 'n vrou gesê. Een van die inwoners, Miena Yazo, het reguit na Naik geloop en driftig begin praat. Sy moes later deur van die ander mense weggelei word toe haar optrede dreigend word. Yazo het agterna vir die George Herald gesê sy is baie ontsteld omdat haar susterskind en ander familie in vodde leef, nadat hulle hul huis verloor het. Een van die familielede is in 'n rolstoel.
Oproerige inwoners het verlede Donderdag voor hul wyksraadslid se huis betoog en geëis dat hy vervang word. Foto's: Michelle Pienaar
PBI-raadslid Virgill Gericke, moes bontstaan om die mense kalm te hou. Volgens Gericke het hy Naik in die munisipaliteit se gange raakgeloop en hom gevra om die mense te sien vir 'n vergadering, aangesien Noble nie bereik kan word nie.
Naik het die mense aangeraai om 'n komitee te stig en hul griewe aan die wykskomitee te rig. Hy het ook ingestem om direk hul klagtes aan te hoor, mits hulle afgevaardigdes het wat namens die groep praat. Daleen Valentine, een van die ontevrede inwoners, het 'n kernrol gespeel om die mense se griewe te verwoord.
Kyk 'n video hieronder:
Uit volle bors
Dieselfde aand (Donderdag 22 November) is 'n vergadering vir inwoners van Pacaltsdorp by hul gemeenskapsaal gehou om die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) aan inwoners bekend te stel. Dit is 'n ook 'n platform vir inwoners om griewe en uitdagings aan te meld, sowel as om vrae te vra.
Híér het Noble wel van die geleentheid gebruik gemaak om die wyk te woord te staan.
Volgens inligting het Noble tydens die vraag-en-antwoord-sessie, waartydens inwoners 'n geleentheid kry om vrae te vra, self 'n spreekbeurt geneem. Noble het glo 'n uur lange toespraak gehou en heelwat klem gelê op munisipale amptenare se onvermoë om behoorlik dienste te lewer.
Kyk 'n tweede video hier:
Henry Jansen (middel) van siviele ingenieursdienste verduidelik aan die inwoners dat daar vir die opknappingswerk van die riooldienste in hul woonbuurt begroot moet word. Volgens Jansen kos dit sowat R1,5 miljoen vir elke 1,5 km-pypleiding.
Hy het glo ook die punt gemaak dat dit onregverdig is dat direkteure soveel meer as die politici verdien. Dit het alles in die teenwoordigheid van verskeie verteenwoordigers van die munisipale direktorate geskied.
Lees 'n vorige artikel: New Dawn Park maak stem dik
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'