Gallery Update
GEORGE NUUS - George-burgemeester, Melvin Naik, het ingestem om ontevrede inwoners van New Dawn Park te woord te staan nadat 'n groep oproerige inwoners vroeër vanoggend voor hul wyksraadslid se huis betoog het.
Naik en 'n paar afgevaardigdes van siviele ingenieurswese het probeer om inwoners se gemoedere te kalmeer. Soos vanoggend, was daar weereens geen teken van die wyksraadslid, Cecil Noble, nie.
Van die inwoners se griewe sluit in probleme met riolering, 'n tekort aan behuising, jare lange wagtydperk vir huise en baie moeilike lewensomstandighede.
Die onlangse reën het veroorsaak dat die wonings van heelwat gesinne onder water was. "Ons kinders se klere is nat, alles is nat. Ons kan nie so leef nie," het 'n vrou gesê.
Een van die inwoners, Miena Yazo, het reguit na Naik geloop en driftig begin praat. Sy moes later deur van die ander mense weggelei word toe haar optrede dreigend word. Yazo het agterna vir die George Herald gesê sy is baie ontsteld omdat haar susterskind en ander familie in vodde leef, nadat hulle hul huis verloor het. Een van die familielede is in 'n rolstoel.
Die inwoners het geëis dat hul wyksraadslid vervang word, aangesien hy blykbaar geen rol in hul lewens speel nie. Hulle het onder meer beweer dat hy hulle met hul probleme na die Icosa-raadslid (van die Garden Route-raad), Theresa Fortuin, stuur. Fortuin woon ook in New Dawn Park.
PBI-raadslid Virgill Gericke, moes bontstaan om die mense kalm te hou.
Volgens Gericke het hy Naik in die munisipaliteit se gange raakgeloop en hom gevra om die mense te sien vir 'n vergadering, aangesien Noble nie bereik kan word nie. Die George Herald kon ook nie daarin slaag om met Noble kontak te maak nie.
Naik het die mense aangeraai om 'n komitee te stig en hul griewe aan die wykskomitee te rig. Hy het ook ingestem om direk hul klagtes aan te hoor, mits hulle afgevaardigdes het wat namens die groep praat. Daleen Valentine, een van die ontevrede inwoners, het 'n kernrol gespeel om die mense se griewe te verwoord.
Henry Jansen (middel) van siviele ingenieursdienste verduidelik aan die inwoners dat daar vir die opknappingswerk van die riooldienste in hul woonbuurt begroot moet word. Volgens Jansen kos dit sowat R1,5 miljoen vir elke 1,5 km-pypleiding.
Henry Jansen (middel) van siviele ingenieursdienste verduidelik aan die inwoners dat daar vir die opknappingswerk van die riooldienste in hul woonbuurt begroot moet word. Volgens Jansen kos dit sowat R1,5 miljoen vir elke 1,5 km-pypleiding.
Burgemeester Melvin Naik (regs) kyk toe terwyl Miena Yazo van haar frustrasie ontslae raak.
Lees 'n vorige artikel: Inwoners soek antwoorde van wyksraadslid
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'