Update
GEORGE NUUS - Die moordverhoor van Graham Fillies (37) van New Dawn Park, wat in Desember 2017 vermoor is, het verlede week in die George-streekhof begin.
Fillies is die Vrydagmiddag van 1 Desember 2017 omstreeks 14:00 na bewering deur 'n groep mans aangerand. Hy het later die aand in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Agt verdagtes, Johnathan Boesak (35), Hayward Botha (34), Daniël Bruiners (44), Mertle Damons (33), Ryno Joubert (36), Remano Matolla (33), Ricardo Williams (37) en Aden Jantjies (31) is kort daarna in hegtenis geneem.
Klagtes is intussen voorlopig teen Damons, Matolla en Williams teruggetrek.
Fillies se vriendin, Chevontre Lourens (20), het Dinsdag en Woensdag haar getuienis gelewer. In haar getuienis het sy genoem dat die beskuldigdes, waarvan sommige met hokkie-, gholfstokke en 'n ysterpyp gewapen was, op die dag van sy dood na Fillies gesoek het. Die hof het ook gehoor dat sy verbaas was toe sy later sien hoe Fillies aangerand word.
Rudolph Bruintjies (41) was die tweede persoon wat verlede week agter die getuiebank ingeskuif het. In sy getuienis het hy gesê dat die beskuldigdes by sy huis na Fillies kom soek het.
Bruintjies het ook aan die hof genoem dat een van die beskuldigdes 'n hokkiestok, een 'n ysterpyp en twee gholfstokke in hul besit gehad het.
"Hulle het vir Graham by my huis kom soek, maar ek het vir hulle gesê hy is nie by my nie. Toe sê hulle vir my ek moet aantrek en saam met hulle gaan," het Bruintjies gesê.
Die hof het gehoor hoe die groep tydens die soektog na Fillies in twee verdeel het. Hy is kort daarna blykbaar deur die beskuldigdes gevind waarna 'n stryery ontstaan het en Fillies aangerand is.
Tydens kruisondervraging het Bruintjies aan die hof erken dat hy vroeër die dag Mandrax gebruik het.
Buiten Aden Jantjies is al die beskuldigdes, asook Fillies en Bruintjies, glo lede van die 26-nommerbende.
Die saak is tot 19 Julie uitgestel vir verdere getuienis. Die beskuldigdes bly in aanhouding.
Boesak, Joubert en Botha word deur Winston Jansen verteenwoordig. Dawie Scholtz verteenwoordig Daniël Bruiners en Aden Jantjies word deur Flip Theron verteenwoordig.
Candice Simon is vir die staat. Die saak dien voor landdros Emma Moloro.
Lees vorige artikels:
- Fillies-moordverhoor begin
- 8 Verdagtes in hof vir moord
- Verdagtes steeds in aanhouding
- Verdagte kersfees agter tralies
- 3 moorde in 24 uur
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'