Gallery Update
GEORGE NUUS - Ou kartondose en gebruikte bottels is vir sommige mense rommel, maar vir Natasha October (40) en Katrina Arries (63) van New Dawn Park in Pacaltsdorp, is dit egter hoop vir 'n nuwe lewe.
Hulle samel die rommel in en verkoop dit aan 'n herwinningsmaatskappy om geld te verdien.
Tot voor verlede week het hulle 'n verinneweerde winkeltrollie, wat hulle self aangepas het, gebruik. Die AHi Wes-Kaap het egter daarvan te hore gekom en 'n nuwe moderne waentjie aan hulle oorhandig. Met ontvangs van die waentjie het daar behoorlik trane van blydskap gerol.
Hulle het 'n onderneming, KNP, begin om hul werksaamhede te koördineer en het reeds ses helpers. Beide is tevrede en hulle mikpunt is om genoeg geld bymekaar te maak sodat hulle 'n behoorlike huis kan bou.
Arries het vertel dat hulle die onderneming in Maart vanjaar begin het. Haar man, Adam Arries het al vroeër rommel herwin en dit dan verkoop. Sy het aanvanklik saam met hom geloop en rommel soos kartondose en bottels opgetel. Later het October bygekom.
Volgens Arries was sy aan die begin maar skaam om die rommel so bymekaar te maak.
Die nuwe waentjie was 'n groot verrassing. October sê die nuwe waentjie sal die lewe vir hulle makliker maak.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, wys vir Natasha October en Katrina Arries hul nuwe waentjie. Foto: Eugene Gunning
Soggens het hulle gewoonlik dieselfde roetine en loop van huis tot huis. Hulle kyk in swart vuilgoedsakke en daar is 'n paar sakeondernemings wat ook die rommel vir hulle bêre.
Die inkomste wissel. Soms is dit genoeg en ander maande is dit minder. Hulle betaal eers hul helpers en gebruik dan wat oorbly.
Kyk 'n video hieronder
Haar advies aan mense in soortgelyke situasies is: "Moenie moed verloor nie. Hou vas aan jou drome en glo daaraan. As dit die maand nie goed gaan nie, byt vas. Volgende maand sal dit beter gaan." Hulle glo hul sal eendag 'n groot maatskappy besit.
Sy het benadruk mense moet bereid wees om enige werk te doen. "Moenie bang of skaam wees om jou hande vuil te maak nie."
Luwayda Trantraal, voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapsakekamer, het gesê die informele ekonomie word onderskat.
Sy het bygevoeg dat die vroue nie net werk skep nie, maar hulle help om die omgewing skoon te hou. Meer sulke mense is nodig. Daar moet in elke gebied sulke mense wees wat help om plekke skoon te hou.
Natasha October en Katrina Arries was oorweldig deur die nuwe waentjie wat dr. Willie Cilliers namens die AHi Wes-Kaap aan hulle oorhandig het. Tussen Arries en Cilliers staan Luwayda Trantraal, voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapsakekamer. Foto: Eugene Gunning
Cilliers het gesê die AHi Wes-Kaap het verlede jaar in November besluit om daadwerklik in die gemeenskap betrokke te raak.
Hy het self die waentjie ontwerp en gebou. Die verskil wat die AHi Wes-Kaap maak is die ondersteuning van die kleinsakeondernemings.
Volgens hom is dit die eerste projek van die aard van die AHi Wes-Kaap en dit is gedoen in samewerking met die Pacaltsdorp-gemeenskapsakekamer.
Die waentjie is die eerste fase en 'n nuwe Wendy-huis sal later opgerig word.
Volgens hom is baie meer mense soos Arries en October nodig.
Lees 'n vorige artikel: Trane van vreugde in Pacaltsdorp
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'