GEORGE NUUS - Trane van vreugde het Woensdag in New Dawn Park, Pacaltsdorp, gerol toe twee vroue, Natasha October (40) en Katrina Arries (63) 'n nuwe waentjie vir hul herwinningsonderneming, KNP Recycling ontvang het.
Die waentjie is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, gemaak en namens die instansie oorhandig.
Tot voor gister het hulle 'n verinneweerde winkeltrollie, wat hulle self aangepas het, gebruik om die rommel te herwin, in te ruil en so geld te verdien.
Arries het vertel dat hulle die onderneming in Maart vanjaar begin het. Haar man, Adam Arries het al vroeër rommel herwin en dit dan verkoop. Sy het aanvanklik saam met hom in die strate geloop en die rommel soos kartondose en bottels opgetel. Later het October bygekom.
Volgens Arries was sy aan die begin maar skaam om die rommel so by mekaar te maak.
Hulle is beide tevrede en hulle verdien geld daarmee om aan die lewe te kan bly. Hulle het intussen uitgebrei en het reeds 'n paar mense in diens wat hulle bystaan.
Die nuwe waentjie is 'n groot verrassing en hulle het dit glad nie verwag nie.
Natasha October en Katrina Arries in trane oor die nuwe waentjie wat hulle ontvang het. By hul staan Luwayda Trantraal, voorsitter van die Pacaltsdorp Gemeenskap-sakekamer en dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap.
Cilliers het gesê die AHi Wes-Kaap het verlede jaar in November besluit om daadwerklik in die gemeenskap betrokke te raak. Die verskil wat die AHi Wes-Kaap maak is die ondersteuning van die klein sakeondernemings.
Dit is die eerste projek van die aard van die AHi Wes-Kaap en dit is gedoen in samewerking met die Pacaltsdorp Gemeenskap-sakekamer.
Die waentjie is die eerste fase en 'n nuwe Wendy-huis sal later opgerig word.
Volgens hom is baie meer mense soos Arries en October nodig.
Natasha October en Katrina Arries by hul nuwe waentjie. By hulle sit hul hond Rusty. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'