GEORGE NUUS - Daar was groot opgewondenheid verlede Donderdag, 1 September, toe Tuiniqua-versorgingsentrum twee spesiale sorgbeddens ontvang het. Die beddens ter waarde van R33 000 elk, sal in die sorgafdeling van die sentrum aangewend word. Dit is deur Sirago Underwriting Managers geskenk.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het gesê die instansie is baie dankbaar en opgewonde. "Ons beddens is baie oud en kan nie voorsien in die behoeftes van mense wat langdurig in die bed lê nie."
Die nuwe beddens bevat onder meer spesiale matrasse wat druk verligtend is.
Nog 'n aspek wat Tuiniqua opgewonde maak is dat die beddens baie laag of hoog gestel kan word. Dit is tot voordeel van die personeel wat hulp verskaf en inwoners.
As die bed byvoorbeeld laag gestel is, is die risiko minder as die persoon van die bed moet afklim. Martin Rimmer, besturende direkteur van Sirago Underwriting Managers, het gesê dit is alles deel van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid.
Buiten die skenk van die beddens het die maatskappy die afgelope Saterdag 'n spesiale fietstoer aangebied. Dit het plaasgevind in die Seven Passes tussen George en Knysna.
'n Aantal van die maatskappy se kliënte is na George genooi om saam te ry in 'n privaat geleentheid. Die plan is om die fietstoer 'n jaarlikse geleentheid te maak.
Isobel Rohwer, 'n makelaar wat ook betrokke is by Tuiniqua, het gesê dit is 'n maatskappy wat behulpsaam is met aanvullende mediese dekking.
"Dit word verwelkom dat hulle ook hul liefde vir die mediese veld hier in die Suid-Kaap kom uitbrei het deur die beddens vir Tuiniqua te skenk."
Martin Rimmer, besturende direkteur van Sirago Underwriting Managers en Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, by die oorhandiging van die beddens. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'