Update
GEORGE NUUS - Die transitoroofsaak waarin vier mans van George aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot Augustus uitgestel nadat een van die beskuldigdes onder kruisverhoor siek geword het.
Die saak spruit uit 'n rooftog op 19 Julie 2021 toe 'n sekerheidswag van Fidelity Cash Solutions, Lonwabo Maqwasa, by die Bridgton BP Garage, deur twee gemaskerde mans, geboei en van sy vuurwapen en 'n geldsak met meer as R86 000 daarin, beroof is.
Drie van die verdagtes is later die dag deur die polisie in die Outeniqua-pas voorgekeer. Die ander een is in Oudtshoorn in hegtenis geneem.
Simphiwe Matwa, Masixole Dolomba, Lwandiso Lento en Sakhele Nkabi, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Matwa, bestuurder en eienaar van die Nissan Sentra, waarmee hulle gevlug het, het Vrydag getuig dat hy niks van die twee vuurwapens wat onder die bestuurder se sitplek was en 'n sak met die geld wat in die kattebak van die motor gevind is nie, weet nie. Matwa het getuig dat hy die betrokke oggend na die Oudtshoorn-verkeersdepartement gekom het en vir Sakhele Nkabi, 'n kaptein in die weermag in Oudtshoorn, 'n geleentheid gegee het. Hy het die motor naby die kantore van die verkeersdepartement parkeer terwyl Nkabi in die motor bly sit het.
Hy het die motorsleutels in die aansitter gelos en toe hy terugkom was Nkabi nie meer daar nie.
Simphiwe Matwa
Volgens hom is dit moontlik dat iemand in die tyd toe daar niemand by die motor was die vuurwapens en geldsak in die motor kon geplaas het.
Hy het onder kruisverhoor deur Eugene Roos, regshulprokureur van Masixole Dolomba en Lwandiso Lento, skielik siek geword het.
Kapt. Cathlene Williams, het getuig dat Matwa, net soos Dolomba en Lento bygestaan het toe kapt. Gerhardt Roux, by die afdraai na Blanco die twee vuurwapens, 'n weermaguniform met 'n medalje en die sak met die geld in die voertuig gevind het.
Matwa se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, het dit egter aan Williams gestel dat die drie verdagtes op die grond gelê, met hul gesigte weg van die voertuig, toe dit deursoek is. Volgens hom gee sy twee weergawes van wat tydens die deursoeking van die Sentra gebeur het.
Die saak dien voor streeklanddros Ntoski Moni en is vir voortsetting tot 7 Augustus uitgestel.
Brandon Smith is die aanklaer in die saak en die vier verdagtes bly in aanhouding.
Jurgen Loff verskyn namens Nkabi.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’