Update
GEORGE NUUS - Die tienerseun (16) wat aangekeer is vir die moord op Franzlin Willemse (18) van Rosedale, sal in 'n plek van veiligheid aangehou word tot sy volgende hofverskyning op 3 Desember.
Franzlin, 'n gr. 9-leerder aan Hoërskool Parkdene, is Saterdagnag in Rosedale doodgesteek.
In 'n onderhoud met George Herald sê Christine Willemse, sy ma, sy het die tyding net voor 12:00 ontvang.
"Hulle het my kom roep en gesê Franzlin is gesteek en dit lyk nie of hy dit gaan maak nie. Ek het uitgehardloop na waar hy in die straat gelê het en het nog 'n polisiebakkie wat verbygery het, probeer stop, maar sonder sukses," sê sy.
Sy vertel hulle vermoed haar pragkind se moord was beplan, omdat daar glo voorheen dreigemente teen sy lewe was. Willemse beweer ook dat haar seun deur ander partye vir sy vriend se dood, verlede September op die N2 langs Rosedale, verantwoordelik gehou word.
Sy sê Turbo [Franzlin] soos hy bekend was, was een van vyf kinders en was altyd omring deur vriendinne. "Hy was 'n regte haan onder die henne," spog sy ma. Sy sê hulle gaan hom vreeslik mis, veral sy sêgoedjies en grappies wat hy altyd met hulle gedeel het. Willemse sê Franzlin was nie 'n moeilike kind nie, en sou nie en was ook nie deel van 'n bende soos wat beweer word nie.
Volgens haar het hy en sy vriende Saterdagaand by die plaaslike uithangplek gaan kuier. Hy het eers 'n vrou huis toe gevat sodat sy nie alleen hoef te stap nie, voor hy en sy vriende deur die groepie jong manne voorgekeer is.
Volgens Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die 16-jarige verdagte wat van moord aangekla word, Dinsdag in die George-landdroshof verskyn. Pojie sê die verdagte is steeds in hegtenis, maar in 'n plek van veiligheid geplaas.
Pojie het ook bevestig dat hulle ongelukkig nie op enige van die familie se beweringe kan kommentaar lewer nie. "Ons kan nie op onbevestigde gerugte kommentaar lewer nie. Die aannames is ongegrond en daar is tans geen verband of bewyse van enige verbintenis tussen die twee gevalle nie."
Vorige artikel: Nog 'n moord in Rosedale
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'