GEORGE NUUS - Die Valke het vandeesweek bevestig dat die Audi waarmee die beweerde swendelaar, Marius Smit (26), ten tye van sy inhegtenisname gery het, asook 'n bankkaart wat in sy besit gevind is, aan 'n bloemfonteinse advokaat behoort.
Die advokaat, wie se naam bekend is aan die George Herald, is na bewering 'n vriend van Smit.
"Die Audi waarmee Smit gery het, behoort aan ** wat 'n vriend van Smit is," het Lynda Steyn, 'n woordvoerder vir die Valke in Bloemfontein, aan die George Herald gesê.
Steyn het by navraag ook bevestig dat sowat 100 simkaarte aan die einde van 2018 in Smit se besit gevind is. Dié gebruikte, vooruitbetaalde simkaarte is gevind toe Smit se voertuig deur lede van die Bloemfonteinse polisie deursoek is nadat iemand 'n verdagte man [Smit] in 'n voertuig in 'n parkeerarea naby die toeristekantoor by die polisie aangemeld het.
Vorige vonnis
Smit en nog 'n man, Gideon de Beer, is in 2011 gevonnis tot 'n voorwaardelike twee jaar opgeskorte vonnis.
Een van die opskortingsvoorwaardes was dat hulle twee jaar korrektiewe toesig ondergaan, wat ook 284 uur gemeenskapsdiens ingesluit het. Smit en De Beer het destyds mense met advertensies van slimfone en voertuie op MXit en die internet met R80 000 ingeloop.
Smit leer nie sy les
Smit is op Woensdag 3 Julie by 'n OTM in Bloemfotein weer vir bedrog in hegtenis geneem ná hy glo talle slagoffers in die Suid-Kaap asook landwyd ingedoen het met 'n advertensie van 'n bakkie wat hy op Facebook te koop aangebied het.
Daar word beweer dat hy mense uit miljoene rande bedrieg het deur Facebook-profiele te kloon en ‘n Ford Bantam-bakkie teen R14 000 of R15 000 te koop aan te bied.
Die George Herald het in Januarie vanjaar oor Smit geskryf ná hy 'n plaaslike vrou se Facebook-profiel na bewering gekloon het om sodoende 'n bakkie op 'n oneerlike wyse te koop aan te bied.
Talle slagoffers uit George het na dié berig die koerant gekontak. Almal se stories het ooreengestem.
Smit is op 30 Julie op borgtog van R2 000 vrygelaat en verskyn weer op 30 Oktober in die landdroshof in Bloemfontein.
Die simkaarte wat in Smit se besit gevind is.
Speurder op soek na klaers
Die privaatspeurder wat verantwoordelik is vir Smit se arrestasie, Leon Rossouw, versoek almal wat moontlik deur Smit ingedoen is, om hom te kontak by 079 240 3491.
Lees 'n verwante artikel: Beweerde Facebook-flouser kry borgtog
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'