Update
GEORGE NUUS - Op die eerste dag van 16 dae van aktivisme teen geweld teen kinders en vroue is 'n 44-jarige vrou van Blanco wreed verkrag.
Die slagoffer het Saterdag 25 November, omstreeks 05:00, gaan stap toe sy naby die DéJàVu-stalle op die R404 (die pad tussen Blanco en die lughawe) deur twee mans aangerand en verkrag is.
Volgens adjudant-offisier. Martin Borg, verbonde aan die George gesinsgeweld-, kinderbeskerming- en seksuele misdrywe-eenheid (GKS), het die verdagtes die slagoffer by die verkeersirkel naby SAB genader.
"Een van hulle het 'n stok in haar gesig gedruk en gesê: 'Ek gaan jou kry.' Daarna het hulle verdwyn."
Naby die stalle het die verdagtes die slagoffer na bewering gegryp en haar in 'n sloot langs die pad ingetrek.
Een van hulle het haar forseer tot orale seks, waarna albei haar herhaaldelik verkrag het.
Volgens die polisie het die slagoffer gesê een van die verdagtes het haar in die gesig probeer byt en met die dood gedreig indien sy haar sou teësit.
Hulle het na die voorval klaarblyklik aan haar gesê dat hulle reeds in die tronk was en nie bang is daarvoor nie.
Sy het een van die verdagtes beskryf as 'n bruinman met 'n donker gelaat.
Volgens haar lyk albei nog baie jonk, vermoedelik tussen die ouderdomme van 16 en 20.
Die area waar die verkragting plaasgevind het. Die slagoffer het aan die polisie vertel dat sy motors hoor verbyry het, maar sy was te getraumatiseer om te reageer. Foto: Kristy Kolberg
Hulle het na die voorval in die rigting van Geelhoutboom gevlug.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en 'n saak van verkragting word ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan adjudant-offisier. Martin Borg by 076 864 3633 skakel.
- Lees 'n vorige artikel: Vrou glo aangerand en verkrag
- Lees 'n verwante artikel: What to do in case of a rape
Lees die nuutste | Tieners vas vir vrou se verkragting
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'