Update
GEORGE NUUS - Binnelandse sake se streekkantoor in George kan net 'n sekere hoeveelheid kliënte op 'n slag bedien.
Dit gebeur gereeld dat hulle hul deure moet sluit om gesondheids- en veiligheidsredes.
Só het die departement se streekbestuurder, Mosiuoa Ngaka, gesê, na aanleiding van 'n voorval verlede week waar mense vir 'n geruime tyd voor geslote deure gewag het.
'n Superintendent het wel op 'n stadium kom verduidelik dat hulle propvol is, en dus genoodsaak was om die deure te sluit.
"Sodoende verhoed hulle dat mense die gebou binnekom en teen toemaaktyd (16:00) ongeholpe moet terugkeer huis toe," het sy gesê.
Ngaka het hierdie praktyk bevestig en gesê die kantoor kan slegs sowat 40 mense hanteer.
"Ons laat wel sowat 20 mense toe om 'n ry binne die gebou te vorm, maar nie meer as dit nie," het hy gesê. "Ons probeer die getalle tussen 40 en 60 hou."
Ngaka het gesê die gebruik is om 'n nota teen die deur te plak om diegene wat buite staan in te lig oor die situasie.
"Ons beamptes gaan ook voortdurend na buite om die mense in te lig," het hy gesê.
"Hulle kan egter nie die heeltyd daar staan nie, want hulle het ook 'n werk om te verrig."
Hy voer aan dat die nota verlede week waarskynlik afgeval het, omdat dit met kleefband vasgeplak word.
Van die gefrustreerde kliënte verlede week het al die pad van Plettenbergbaai gery om aansoek te doen vir 'n identiteitsdokument vir hul kind wat vanjaar in matriek is.
Baie van die ander kliënte was daar om dieselfde rede.
Lees 'n vorige artikel: Kliënte wag vergeefs voor geslote deure
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'