Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Frustrasie en gemoedere het die hoogte in geskiet toe 'n groep hoopvolles Dinsdagmiddag met 'n geslote deur by die departement van binnelandse sake in Yorkstraat begroet is.
Van die mense in die groep het glo reeds vir ure voor die deur gestaan en wag om te hoor wat die stand van sake is.
Kliënte was teen 15:00 duidelik sigbaar binne die gebou, maar die deure was gesluit.
Die sekerheidswag kon glo nie werklik help nie en daar was geen nota op die buitedeur om die onverklaarbare situasie te verduidelik nie.
Met die George Herald se aankoms kort na 15:00 het een van die gefrustreerde kliënte gesê hulle het al die pad van Plettenbergbaai gery om aansoek te doen vir 'n identiteitsdokument vir hul kind wat vanjaar in matriek is.
Baie van die ander kliënte was daar om dieselfde rede.
Soos kliënte uit die gebou beweeg het, het hulle bevestig hulle was ook daar vir ’n aansoek om 'n ID.
Een van die ma's het verduidelik dat matrieks nie tot 'n skool toegelaat word sonder 'n ID of aansoek om 'n ID nie.
Matrieks benodig 'n ID wanneer hulle eksamen moet skryf.
Kyk 'n video hieronder:
Op 'n stadium het een van die beamptes, Christine Booysen, na buite beweeg om die groep toe te spreek.
Booysen het benadruk dat sy nie die kantoorhoof is nie, maar dat sy graag wil verduidelik wat aangaan.
Blykbaar is die departement Maandag en Dinsdag so oorval met kliënte dat hulle genoodsaak was om hul deure te sluit.
Booysen het gesê hulle doen dit sodat mense nie vir ure wag om gehelp te word en dan teen 16:00 wanneer die kantoor sluit, ongeholpe moet huis toe gaan nie.
Staatsdiensamptenare van die departement werk van 07:30 tot 16:00.
Sy het erg onder kritiek deurgeloop. Die mense buite was van mening dat 'n nota op die deur hulle baie frustrasie sou gespaar het.
Ander het die vraag geopper of dit inderdaad wetlik korrek is om die deure van 'n openbare diens binne kantoorure te sluit.
Vrae in die verband is aan die streekkantoor van binnelandse sake op George gestuur en sal geplaas word sodra ons dit ontvang.
* A group of frustrated people gathered in front of the Department of Home Affairs yesterday afternoon, trying to figure out why the doors were locked well before 16:00.
Many of these clients needed to apply for Identity Documents for their children in matric.
According to the parents their children would not be able to register without an ID.
One of the officials came out to explain the situation, saying they are extremely busy and closed the doors to prevent people from waiting for hours in vain.
ARTIKEL & VIDEO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'