SUID-KAAP NUUS - SA for Hope se volgende uitreik is na die Noorsveld, suidoos van die Jansenville-distrik waar hulle 100 boere- en werkersgesinne gaan help.
'n Direkteur van die organisasie, Pieter du Plessis, sê hulle kort dringend die publiek en besighede se ondersteuning om dit moontlik te maak.
"So 'n uitreik kan om en by R400 000 uitwerk. Van die boere en werkers kry dit reg om omtrent twee maande uit te kom met die skenkings wat ons vir hulle gee.
"Die skenkings werk uit op R66 per plaas per dag, so 'n mens verwonder jou oor hoe hulle dit regkry en hoe hulle oorleef as dit nie vir organisasies soos SA for Hope en ander was nie. Ons sal binne die volgende twee tot drie weke die datum van ons uitreik bekendmaak."
Uitreik na Calitzdorp-seniors
'n Groep vrywilligers van SA for Hope het op Saterdag 2 Maart uit George na Calitzdorp vertrek waar hulle by 'n groep vrywilligers van die Kaap aangesluit het vir 'n uitreik by Vygieshof-tehuis vir bejaardes.
"Ons het ongeveer 1 ton vars groente en vrugte afgelaai, skoonmaakmiddels, teëls om hul sitkamer se vloer te herstel asook 'n oupa- en ouma-bederfpakkie vir elke inwoner," sê Du Plessis.
"Dis vir ons 'n voorreg om ook na ons senior burgers te kan omsien net soos na ons boere wat droogtehulp nodig het. Dis ons senior burgers wat ons land en ekonomie gevorm en gebou het met harde werk op plase en in skole en besighede. Ons het gebraai en daar is tot gedans. Dit was 'n heerlike, gesellige dag."
Mense wat betrokke wil raak by SA for Hope se uitreik na die Noorsveld, kan hulle deur hul Facebook-blad kontak, of bel Pieter du Plessis by 076 844 6435.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’