Update
GEORGE NUUS - Die polisie is steeds op soek na 'n groep verdagtes ná die Pacaltsdorp-poskantoor Maandag 2 November die nuutste teiken van 'n gewapende roof geword het. 'n Onbekende bedrag kontant en twee vuurwapens is tydens die voorval gebuit.
In hierdie stadium is dit onbekend presies hoeveel verdagtes by die voorval betrokke was.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is 'n saak van besigheidsroof geopen.
"Die poskantoor is omstreeks 08:30 beroof toe 'n sekerheidsmaatskappy besig was om kontant, wat vir Sassa-toelae bedoel was, af te laai. Ná die geld afgelewer is, het 'n verdagte na bewering die poskantoor binnegegaan en die sekerheidswag met 'n vuurwapen gedreig," sê Pojie.
Die verdagte het daarin geslaag om twee sekerheidsbeamptes te ontwapen en met 'n groot bedrag kontant, sowel as die twee vuurwapens, te voet te vlug.
"Een van die wagte werk by die poskantoor en die ander een was deel van die sekerheidsmaatskappy wat die kontant afgelewer het. Die verdagte het toe te voet gevlug met die geld in sakke sowel as die vuurwapens," het Pojie gesê.
Ná die voorval het die verdagte en sy medepligtiges glo 'n Toyota Corolla in die parkeerarea van 'n nabye kliniek gekaap, vanwaar hulle na Fonteinstraat gery en in 'n Toyota Tazz geklim en weggejaag het.
"Die verdagtes het in die rigting van Beachweg gery waar hulle met 'n Opel-voertuig gebots het. 'n Vuurwapen is glo ook in die rigting van die bestuurder van die Opel afgevuur. Die Toyota Tazz is later verlate in Rebeccastraat in Eden Park, Pacaltsdorp gevind. Die verdagtes is steeds op vrye voet," sê Pojie. Twee klagtes van gewapende roof, een van kaping en een klag van poging tot moord word deur die Pacaltsdorp-polisie ondersoek.
Teen druktyd Woensdagoggend was daar nog geen nuwe inligting rondom die voorval nie. "In hierdie stadium word alle leidrade opgevolg en die ondersoek duur voort," het Malcolm Pojie gesê.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao. William van Schalkwyk, te kontak by 044 803 9100/083 382 2103 of Crime Stop by 08600 10111. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die Pacaltsdorp-poskantoor was Maandagoggend die teiken van 'n gewapende roof waarin 'n onbekende bedrag geld gebuit is. Foto's: Kristy Kolberg
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'