Update
GEORGE NUUS - Vier van die sewe verdagtes wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) aangekla word, is ná meer as twee jaar, vandag, Donderdag 27 Februarie, op borgtog vrygelaat.
Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding ná hul aanvanklike bortogaansoek in die Distrikshof in George in Februarie 2018 onsuksesvol was.
Regter President, John Hlophe, het egter die onsuksesvolle aansoek omgeswaai en die vier beskuldigdes is vandag op borgtog van R1 000 en baie streng voorwaardes, vrygelaat.
Hulle word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike doel deurdat hulle na bewering vir Verlaat op 2 Desember 2017 aangerand het.
Sy liggaam is met ernstige kopwonde in Rosedale gevind.
Dié aanval was na bewering 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Die verdagtes word deur Winston Jansen en Clayton Samson van Winston Jansen Prokureurs verteenwoordig.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Vorige artikels:
- 2017 Rosedale-moord: Verhoor gaan voort
- Moordverhoor gaan in 2020 voort
- Rosedale-moord: Verhoor gaan in 2020 voort
- Moordverhoor begin in George-Streekhof
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'