Update
GEORGE NUUS - Rosedale in Pacaltsdorp was Donderdag 6 September in rep en roer toe die huis van Berenice Claassen in Genesisstraat in vlamme gehul was en die George-brandweer met drie brandweerwaens opgedaag het om dit te blus.
'n Erg getraumatiseerde Claassen het die volgende dag vertel: "Ek was in my slaapkamer en het rook geruik. Toe ek gaan kyk was ek geskok want die vlamme was toe reeds teen die plafon van my kombuis."
Die brand het ontstaan in 'n houtkamer langs haar huis en vinnig versprei na haar sosiale behuisingshuis. Sy vertel: "Die plafon het vreeslik gebrand en dit was toe reeds te laat om die houthuis te red." By aankoms net na 17:00 het die George-brandweer die brand met die hulp van drie brandweerwaens bestry, maar teen die tyd was die informele struktuur reeds bykans heeltemal afgebrand.
Volgens die munisipale kommunikasie bestuurder, Chantel Edwards-Klose, is twee kamers van die huis vernietig en die hele huis deur rook en waterskade beskadig. "Die brandweer kon die brand blus en verhoed dat dit na nabygeleë huise versprei.
Dit kon nie vasgestel word wat die brand veroorsaak het nie.
Die George-munisipaliteit se menslike nedersettings departement (Human Settlements Department) is in kennis gestel en het hulp verleen aan twee persone in die huis en ses in die informele struktuur."
Die foto is geneem deur 'n buurvrou op Donderdagaand net na 17:00.
Rosedale-woonbuurt in Pacaltsdorp was in rep en roer terwyl Berenice Claassen se huis afgebrand het.
Polisie
"Die polisie is uitgeroep deur bure en by aankoms in Genesisstraat was die houtkamer reeds in vlamme gehul. Niemand was ten tyde van die brand tuis nie en niemand is beseer nie." Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word geen vuilspel vermoed nie. Claassen sê sy vermoed dat 'n kers in die houtkamer omgeval het en dat haar huurders by tuiskoms so groot geskrik het vir die brand dat hulle weggehardloop het.
Hulp
'n Lions en Round Table verteenwoordiger, Sean Snyman, het klere en voedsel verskaf. Snyman het aangedui het dat daar ook 'n R200 skenking vanaf Checkers aan Claassen oorhandig is. Die DBV het dadelik 'n inspekteur gestuur met pakkies hondekos toe hulle verneem die familie se hond benodig voedsel en hulp.
Van die houthuis waarin ses mense gewoon het en wat teen Berenice Claassen se huis geleë was, is net sink en gebrande hout oor.
Hartseerstorie
Claassen sê die verlies van al haar besittings is 'n hartseerstorie. Sy is dankbaar vir die hulp en hoop dat sy 'n werk kan vind sowel as 'n selfoon om die taak om werk toe soek te vergemaklik.
Sy het 'n driejarige seuntjie, Ethan, vir wie sy graag wil sorg. Sy kan bereik word deur 'n buurvrou by 071 144 5340 te skakel.
Enige skenkings kan deur Estelle Frederick by 044 802 2015 gemaak word.
Lees 'n vorige artikel hier: Roisedale woman loses everything
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'