Gallery
GEORGE NUUS - Personeel van Parkdene Sekondêr is hoogs in hul skik met 'n geliefde kollega wat vanaf vandag, Donderdag 1 Julie, as skoolhoof aangestel is.
Derick Petersen is 'n man wat al vereer is met 'n nasionale toekenning vir leierskap in sekondêre skole, en het sedert Januarie verlede jaar die pos as waarnemende hoof by Parkdene Sekondêr beklee.
Petersen het vroeër jare die pos as adjunkhoof van Parkdene Sekondêr gevul, waarna hy as skoolhoof van Imizamo Yethu Secondary School groot sukses behaal het. Hy is bekend vir sy fokus op klasdissipline, spanwerk en gehalte onderrig.
"Selfs in die tyd toe Petersen weg was van Parkdene Sekondêr het die skool hom na aan die hart gelê," het departementshoof Maritza Theron gesê.
"Hy het ons gereeld kom ondersteun en hulp verleen waar hy kon. In die laaste 18 maande, te midde van groot uitdagings en die Covid-19-pandemie, het sy leierseienskappe die heel beste na vore gekom.
Fotogalery: Petersen amptelik aan hoof van Parkdene Sekondêr
Hy is 'n inspirerende leier wat nie skroom om self in te spring nie. Buiten om elke personeellid en kind se veiligheid daagliks sy eerste prioriteit te maak, het hy ook stukkie vir stukkie die skool en terrein opgeknap en begin om elke klaskamer met die nodige toerusting vir e-leer toe te rus.
Onder sy leiding kan dit nou werklik gesê word dat hy die Wes-Kaapse onderwysdepartement se visie uitleef: 'gehalte onderwys vir elke kind, in elke klaskamer, in elke skool'."
Skoolhoof Derick Petersen en sy twee adjunkhoofde, Martha Ragadu (links) en Phillip Rothman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'