GEORGE NUUS - Sowat R16 miljoen is beskikbaar gestel vir die opgradering van die Pacaltsdorp-kliniek, 'n projek wat al meer as tien jaar aankom, en 'n proses om 'n kontrakteur aan te stel is aan die gang.
Dit is bevestig deur die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, tydens haar onlangse besoek aan die kliniek.
Die kliniek wat sy deure in die vroeë tagtigs oopgemaak het, het lankal reeds opgradering benodig, maar die projek het nooit van die grond gekom nie.
Mbombo het gesê die bestaande kliniek gaan nie afgebreek word nie, daar gaan net aangebou word en veranderinge aangebring word om die vloei van die kliniek binne, te verbeter.
Volgens Nadia Ferreira, 'n woordvoerder vir die departement, is die projek 'n Nasionale Gesondheidsversekerings (NGV)-projek wat deur die nasionale departement van gesondheid gefinansier word.
"Weens die Covid-19-pandemie is die proses vertraag. Die tender het op 15 Julie gesluit en die proses om 'n kontrakteur aan te stel, is aan die gang. Die projek sal na verwagting in die eerste finansiële kwartaal van 2021 (April - Junie) funksioneel wees."
Ferreira sê die opgradering sluit in nuwe konsultasiekamers (daar gaan 11 in totaal wees), 'n apteek met 'n chroniese resepteringseenheid, 'n noodkamer en 'n veeldoelige lokaal vir vergaderings. Sy sê die opgegradeerde fasiliteit sal voorsiening maak vir die verwagte werklading en toename in pasiënte.
Minister Mbombo saam met personeel van die kliniek asook die kliniek se komitee.
Caroline Muller die voorsitter van die kliniekkomitee sê hulle hoop regtig wat die minister belowe het gebeur dié slag, want die kliniek het dringend opgradering nodig. "Ons hoop regtig dit gebeur so gou as moontlik. Ons kla al lank dat die mense in die wind en weer en son moet staan, so hopelik kom daar 'n wagarea vir hulle."
Muller sê hulle wil al die geriewe hê wat 'n kliniek moet hê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'