GEORGE NUUS - Debbie Thomas van George is aangewys as die wenner van die Garden Route Cake Off koekbakkompetisie se plaaslike uitdunne.
Thomas en drie ander deelnemers van George het vandag hul bakvernuf met behulp van foto's en video's ten toon gestel.
Thomas, Yvonne Schuin, Mariana Taute en Scheila Jonk se pragkoeke, olieringe en skuimpies is vir 'n totale bedrag van R4 050 opgeveil. Belangstellendes het per WhatsApp vir hul gunsteling koek gebie. Die hoogste bod het geval op Schuin se koek, vir 'n bedrag van R1 600.
Die kompetisie word vanjaar vir die sesde keer aangebied, maar hierdie keer is tegnologie aangewend om die regulasies van grendeltyd te gehoorsaam.
In Oudtshoorn is Chèrie Calitz as wenner gekroon, tydens hulle kompetisie wat gister (Woensdag 22 April) plaasgevind het. Mosselbaai is môre (24
April) aan die beurt. Die algehele wenner onder die drie dorpe waar die kompetisie aangebied word - George, Oudtshoorn en Mosselbaai - sal binnekort aangekondig word. 'n Besluit is geneem om nie vanjaar, soos gewoonlik, 'n streekskompetisie te hou nie.
'n Deel van die opbrengs word aan George-munisipaliteit se Covid-19-fonds geskenk, en die wenner kry 'n kontantprys. Volgens die organiseerder, Trudi Stander, word skenkings ook aan Oudtshoorn en Mosselbaai se munisipale fondse gemaak.
Met die tema "High Tea during #lockdown", is hierdie 'n jaar wat Stander nooit sal vergeet nie.
Haar kommentaar is as volg: "Ek is stom geslaan! Nooit in my wildste drome het ek gedink dat 'n aanlyn koekbak kompetisie soveel aftrek sou kry nie. Nadat ek lank oor die saak gewik en geweeg het - en na baie koffie - het ek besluit dat geen vlermuis die oorsaak gaan wees dat ons nie kan 'Cake Off' in 2020 nie. Ek het met die beoordelaars gepraat en almal was reg vir die ding. Ek moet net by sê, dis so klein bietjie spanningsvol wat die tydsbestuur betref. Die beoordeling vind op 'n spesifieke tyd plaas, daarna moet die publiek stem, en dan word al die gebak opgeveil."
Debbie Thomas se pragtige tafel en skeppings.
Mariana Taute se skeppings.
Scheila Jonk se skeppings.
Yvonne Schuin se spogtafel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'