GEORGE NUUS - Monique Best, die huidige Mej. Planeet Internasionaal was onlangs op besoek aan Seattle in Washington, Amerika.
"Ek het Amerika besoek op 'n mediatoer waar ek onderhoude met radiostasies sowel as TV gehad het. Ek het ook die nuwe Miss Planet USA gaan kroon wat volgende jaar aan die internasionale kompetisie gaan deelneem."
Sy vertel haar besoek aan Seattle was ongelooflik. "Ek kon nie vir 'n beter plek gevra het nie. Seattle was mooier as wat ek myself voorgestel het en met tye het dit gevoel of ek in New York was."
Monique sê alles was georganiseerd en almal se gasvryheid het haar dadelik laat tuis voel. Dit was baie koud tydens haar besoek, maar dit het haar nie verhoed om die stad met sy unieke landmerke soos, Columbia Towers, wat die hoogste gebou met 76 verdiepings is, te verken nie.
"Daar het ek ook my lidmaatskap ontvang van die Latino Chamber of Commerce in Seattle." Sy het ook die Space Needle, Great Wheel en bekende Gum Wall besoek en die strate van Seattle, Washington plat gestap.
Sy was sowat agt dae daar en haar boodskap as Mej. Planeet Internasionaal is om na die planeet om te sien en dit te bewaar. "Moet dit nie net vir vandag doen nie, maar vir die volgende generasies ook."
Vir Monique het omgewingsbewustheid in Suid-Afrika, in vergelyking met oorsese lande, nog baie werk nodig.
"Ek voel dat daar nog 'n groot leemte in Suid-Afrika is. Daar is nog soveel stelsels wat beide in SA en internasionaal in plek gestel kan word vir die bewaring van ons planeet. Ja, daar word vandag een of ander vorm van besoedelingsbeheer wêreldwyd toegepas, maar is dit genoeg?"
Oor haar toekomsplanne na Mej. Planeet Internasionaal, gaan sy definitief haar eie modelskool open sodat sy haar kennis en ervaring met jong meisies wat dieselfde droom het, kan deel. Baie mense het haar al gevra of deelname aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie in haar toekoms is, maar vir nou wil sy eers op haar studies fokus.
Best los ook haar kougom teen die bekende Bubblegum Wall.
Monique se ouers is baie trots op wat sy vermag het. "Ons is baie trots op Monique se prestasies tot dusver en glo dit kan toegeskryf word aan die waardes wat ons as ouers haar geleer het. Waardes bepaal hoe sy na die wêreld kyk, haar karakter, geloof en optredes. Monique is nog jonk en ons glo dat sy nooit sal ophou om haar drome te volg nie en ondersteun haar in alles wat sy nog beoog om te doen."
Lees verwante artikels:
- Young leaders visit bus depot
- George business leaders honoured
- Damesoggend saam met Sonja Heroldt
- Monique Best by damesoggend
- Best besorg oor planeet
- Monique is die beste
- Monique Best terug in George as Miss Planet International
- Monique Best off to the Philippines
- Ontwerper gaan matrieks uitrus
- May this Best be the best
- Local beauty is miss junior teen SA
- George beauty hopes to be SA's best teen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'