GEORGE NUUS - Elke matriek leerder wil soos 'n droom lyk op die aand van hulle matriekafskeid, met elke haar op sy plek en 'n elegante uitrusting moet alle oë op hulle gevestig wees.
Austin Lee, bekende plaaslike modeontwerper wat onlangs sosiale media aan die gons gehad het nadat hy 'n ontwerp vir Mej Heelal Demi-Leigh Nel-Peters aan haar ma Anna-Marie Steenkamp oorhandig het, sal vanjaar daardie droom vir drie uitgekiesde matriek leerders van sy voormalige hoërskool, Parkdene Sekondêr laat realiseer.
"Ek voel as oud-leerder van Parkdene Sekondêr is dit my plig om terug te ploeg in die skool," sê Lee.
Lee bevestig dat hy die volledige uitrustings van twee dames en een seun sal borg vir die opkomende matriekafskeid vanjaar in September, "Ek bevind myself in 'n posisie om terug te wil gee aan persone wat huidiglik in omstandighede is waarin ek myself ook 'n paar jaar gelede bevind het. Ek het alreeds soveel idees, dit sal 'n moeilike besluit wees om die finale produk te kies."
Volgens Lee sal die begunstigde leerders deur 'n seleksie proses op grond van hul huisomstandigede en akademiese verdienstelikheid deur die skoolbestuur genomineer en gekies word.
Austin Lee, plaaslike modeontwerper, is opgewonde oor sy nuwe inisiatief om drie matriek leerders van sy alma mater hoërskool se droom te bewaar. Foto: Luwellyn Innes
Rodney Cupido, Parkdene Sekondêr skoolhoof, sê die mildelike donasie van Lee sal as 'n aansporing dien, "Ons is opgewonde dat 'n oud-leerder vrywilliglik uitgereik het om drie leerders ten volle uit te rus vir die opkomende matriekafskeid."
Lee doen 'n beroep op sy mede oud-leerders, "om die projek te ondersteun waar hulle kan, of om die leerders te borg met grimering, hare en ander bykomstighede."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'