GEORGE NUUS - Die plaaslike skoonheidskoningin en oud-Kwagga, Monique Best, het op Mandeladag daad by die woord gevoeg om die aarde 'n beter planeet te maak.
Best is vroeër vanjaar as die heel eerste Miss Planet International 2019 in Kambodja gekroon.
Verlede Donderdag het sy haar toewyding met drie vermenigvuldig.
Best se oggend het begin waar sy tydens die George Herald Sandwich Jam gehelp het om broodjies te pak. Daarna het sy gehelp om die einste broodjies uit te deel by die George-hospitaal en Rosemoor-kliniek, saam met die Eden Lions-klub.
Dieselfde middag het Best haar handskoene aangetrek en saam met personeel van die George-hospitaal die Camphersdriftrivier en omliggende area help skoonmaak. Sowat vyf bakkievragte rommel is tydens hierdie inisiatief van die gebied verwyder.
Best het gesê al was dit vir haar baie hartseer om al die rommel en plastieksakke oral te sien rondlê en te sien hoe dit die planeet en water besoedel, was dit 'n wonderlike gevoel om te weet dat hulle 'n verskil kon maak. "Dit is my visie om by te dra tot 'n beter mensdom op ons planeet," het sy gesê. "Daarom was dit vir my ook belangrik om 'n hand van liefdadigheid uit te reik met die uitdeel van broodjies."
Monique Best het haar handskoene aangetrek en saam met personeel van die George-hospitaal die Camphersdriftrivier en omliggende area skoongemaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'