Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Lede van die Pacaltsdorp-gemeenskap en senior lede van die polisie het Sondag 5 September koppe bymekaargesit oor hoe om die toenemende misdaad in die gebied hok te slaan.
Die gemeenskap gaan gebuk onder voorvalle van onder andere roof, inbrake en aanrandings, veral onder jong kinders.
In die mees onlangse voorval verlede Woensdag, 1 September, is 'n jong seun se hand afgekap na 'n bakleiery tussen twee opponerende groepe. (Lees die berig langsaan.)
Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek tans drie sake van ernstige aanranding na dié voorval.
Die vergadering, wat deur sowat 100 mense bygewoon is, het op die sportterrein van Pacaltsdorp Primêr plaasgevind met Covid-19-protokolle wat gevolg is.
Onder die aanwesiges was brig. Phumzile Cetyana, waarnemende gebiedsbevelvoerder, stadsraadslede van verskillende politieke partye, verteenwoordigers van buurtwagte en die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiërings-forum (GPF), geestelike leiers en skool-hoofde.
Virgill Gericke het as gemeenskapsleier die inisiatief vir die organisering van die vergadering geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Die opening is waargeneem deur pastoor Jannie Horn. Hy het gesê dit wat in die gemeenskap gebeur, is hartverskeurend. "Mense is nie hier om klippe te gooi nie. Daar kan nie toegelaat word dat kriminele die stad beheer nie," het Horn gesê. Hy het benadruk niemand kan optree asof hulle op 'n eiland woon nie.
Gericke het gesê dis nie 'n politieke plat-form nie. Die gemeenskap is in 'n krisis en dringende ingryping is nodig. "Alles is nie reg in George nie. Daar is erge misdaad in die gemeenskap en statistiek wys dat ons besig is om die stryd teen misdaad te verloor," het Gericke gesê. Hy het gewaarsku dat mense nie die reg in eie hande moet neem nie. Die polisie moet mense in terme van die land se grondwet beskerm.
Isaac Felix, voorsitter van die Pacaltsdorp GPF, het gesê mense moet saamwerk. Cetyana het onderneem om aandag te gee aan van die aangeleenthede wat geopper is. Hy het gesê die stryd teen misdaad is nie net 'n fisieke stryd nie. Hy het geestelike leiers gevra om ook betrokke te raak.
Brig. Phumzile Cetyana, waarnemende gebiedsbevelvoerder spreek die aanwesiges toe.
Die polisie sal teruggaan na die tekenbord.
Aansoek vir meer hulp sal deur die regte kanale gedoen word. Daar sal ook gekyk word na die voertuigsituasie na klagtes dat voertuie nie sigbaar is nie en dat daar ook nie genoeg mannekrag is om die bestaande voertuie te bedryf vir patrollies nie. Voorts sal seker gemaak word dat polisiepatrollies by skole plaasvind.
Hy het gevra dat daar meer proaktief opgetree word en dat sulke vergaderings meer gereeld gehou word.
In vraetyd is ontevredenheid geopper oor die beweerde oneffektiwiteit van die GPF.
Cetyana het na die tyd aan George Herald gesê dit was 'n positiewe vergadering en het benadruk dat die betrokkenheid van die GPF en die buurtwagte belangrik is in die stryd teen misdaad.
'n Ad hoc komitee is tydens die vergade-ring gekies om die GPF by te staan sodat die brandpunte bespreek kan word.
'n Opvolgvergadering sal later gehou word waartydens terugvoering aan die gemeenskap gegee sal word.
Aanwesiges by die vergadering wat op die sportterrein van Pacaltsdorp Primêr plaasgevind het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'