Update
GEORGE NUUS - Die mangat wat vir weke op 'n sypaadjie naby die George-vervoerkern in Cradockstraat oop was, het die bestuurder van 'n slaghuis in die middedorp slapelose nagte besorg. Die gat is verlede naweek toegemaak, twee dae na 'n navraag van die George Herald in die verband gestuur is.
Volgens John Swinnerton, die slaghuisbestuurder, is die kwessie sowat 'n maand gelede by die George-munisipaliteit aangemeld.
"Ek was so bang iemand stap hier in die nag en kry verskriklik seer," het John Swinnerton tydens 'n ter plaatse ondersoek gesê. Die mangat is sowat 3 m diep.
Hy is baie verlig dat dit nou beveilig is. "Ek gee om vir ander. Hierdie was 'n groot gevaar. Iemand sou seerkry en lewensverlies was nie uitgesluit nie."
Die direkteur van siviele ingenieursdienste, Regenald Wesso, het by navraag gesê dit is onduidelik waarom siviele ingenieursdienste nooit hierdie klagte ontvang het nie. Hy bedank die klaer dat die probleem onder hul aandag gebring is.
Die mangat is verlede naweek toegemaak. Foto: Myron Rabinowitz
"Siviel het gaan ondersoek instel en die department wat hier verantwoordelik is, is in kennis gestel. Die mangat is tydelik deur siviele ingenieursdienste met 'n betondeksel beveilig," het Wesso gesê.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'