Update
GEORGE NUUS - Die man, Rodney Witbooi (33), wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou knap voor Kersfees vermoor het, het verlede Donderdag, 2 Maart, weer in die George-landdroshof verskyn.
Witbooi staan tereg op die moord van Soneé Witbooi, wat in die vroeë oggendure van Dinsdag 21 Desember met 'n kapmes in haar ouerhuis in Loeriepark aangeval is.
Die Witbooi-egpaar het in 'n woonstel op die perseel in Boekenhoutstraat gewoon.
Soneé en haar suster, wat op daardie stadium in die woonhuis was, is na bewering met 'n panga aangeval. Beide hul ouers was uitstedig ten tye van die aanval. Soneé is op die toneel dood verklaar, terwyl haar suster ernstige wonde opgedoen het.
Volgens Soneé se ma, Charmaine le Roux, was die huwelik reeds wankelrig en is Soneé verskeie kere deur haar man met die dood gedreig.
"Sy sou 'n interdik teen hom die dag van haar dood by die hof gaan afhaal het. Sy het vir haar lewe gevrees," het Le Roux gesê.
Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Witbooi het nie 'n borgtogaansoek gebring nie en bly in aanhouding. Sy volgende hofverskyning is op Maandag 17 April.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'