Update
GEORGE NUUS - Twee polisie-offisiere van die Suid-Kaapse onderhandelaarspan het Sondag 11 April om die beurt deurnag met 'n man (40) onderhandel wat van die Wonki Ware-gebou in Yorkstraat se dak wou afspring.
Hulle is Sondag omstreeks 17:45 na die toneel ontbied. Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie wou die man na bewering spring ná 'n huishoudelike dispuut.
Die onderhandelaarspan is bygestaan deur lede van Openbare Orde Polisiëring (Pops) en nooddienspersoneel vir enige gebeurlikheid.
'n Reddingspan was ook later die aand op die toneel en het lere teen die gebou begin opsit om voor te berei om die man van die dak af te haal.
"Alle pogings is egter aangewend om die situasie vreedsaam en effektief op te los, sonder om oor te gaan tot taktiese benadering," het Pojie gesê.
Maandagoggend, tussen 05:00 en 06:00, het die man ingegee en self afgeklim na 'n woonstel op die eerste verdieping van die gebou. Volgens Pojie het hy by dieselfde venster waar hy uitgeklim het om op die dak te kom, weer ingegaan. Die man woon vermoedelik daar.
"Hy is na die George-hospitaal geneem en sal moontlik later in die neurokliniek opgeneem word," het Pojie gesê.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'