GEORGE NUUS - Rein Buisman, 'n lewenslustige senior burger oor wie die George Herald in die verlede al berig het, is verlede Maandag, 24 Februarie, in die ouderdom van 83 oorlede.
Buisman se geesdrif vir die lewe was 'n inspirasie vir ander. Hy was 'n ywerige tuinier en omgewingsbewuste wat 'n passievolle stryd teen pampasgras in die landgoed en selfs verder in die omgewing gevoer het.
Hy het hul huis feitlik heeltemal selfvoorsienend gemaak met sonpanele waarin hy 'n jaar of wat voor sy dood nog belê het en 'n uitgebreide reënwatertenkstelsel wat al hul water verskaf het.
"Hy was op die Kraaibosch-komitee en wou die omgewing net altyd mooi maak. Hy het verskeie bome in ons straat geplant. Kort voor sy dood het hy nog aan iemand gesê dat hulle die pampasgras in die vleie moet dophou. Ek gaan hom baie mis.
"Ons het alles saam gedoen en hy was altyd daar om als reg te maak," het sy hartseer vrou, Gerie gesê. Die egpaar was 64 jaar getroud.
Buisman is in September verlede jaar met beenmurgkanker gediagnoseer. Volgens Gerie het dit aanvanklik goed gegaan nadat hy met chemoterapie begin het. Hy moes in Januarie egter twee groot operasies ondergaan en sy toestand het versleg nadat die kankerbehandeling vir twee weke gestop moes word.
Buisman laat agter twee seuns en skoondogters, Rein (jnr) en Louise, en Sebastian en Amanda, hul skoonseun Ivor Jones wat met hul oorlede dogter getroud was, asook sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders.
'n Herinneringsdiens word op 7 Maart om 15:00 by die Kraaibosch-klubhuis gehou.
Wyle Rein Buisman besig om pampasgras uit te haal in die vlei by Kraaibosch-landgoed. Foto's: Alida de Beer
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'