Update
GEORGE NUUS - Talle klagtes stroom steeds in oor die situasie by die lisensiekantoor in Hiberniastraat.
Met George Herald se besoek vanoggend het voornemende kliënte hul griewe gelug oor die lang wagtydperk, min kassiere en aanlynstelsel waarvoor baie mense nie kans sien nie.
George-munisipaliteit se woordvoerder, Athane Scholtz, lewer die volgende terugvoer oor die situasie:
Daar word 50 persone op ‘n keer by die hek van die MVR (Motor Vehicle Registry) se perseel ingelaat en die tipe en hoeveelheid van transaksies, en aantal kassiere, bepaal hoeveel persone op ‘n dag gehelp kan word - soms is dit meer, soms minder.
Die aantal kassiere is beperk as gevolg van Covid-19-maatreëls wat die aantal persone in die fasiliteit beperk en omdat persone siek of in isolasie is. Daar is ongelukkig geen manier dat daar vooruit bepaal kan word hoeveel mense gehelp kan word nie. Die aantal kassiere sal meer word soos wat hulle uit isolasie kom en deur die mediese praktisyns gesond verklaar word. Die enigste persone in die gebou wat nie vandag gehelp kon word nie, was diegene wat nie al die wetlike voorgeskrewe dokumentasie kon voorsien wat nodig is om hul transaksies af te handel nie.
Die aanlynstelsel neem langer, maar aansoekers sal beslis hulle lisensies ontvang - afhangende van omstandighede en die aantal transaksies behoort dit nie langer as twee weke te neem voordat die lisensieskyfie beskikbaar is nie. Huidige lisensies is geldig tot 21 dae na die vervaldatum op die skyfie - indien voertuigeienaars betyds aansoek doen behoort die skyfie beskikbaar te wees voordat dit verval het.
Dit is baie belangrik dat aansoekers die bewys van betalings e-pos aan AL die e-posse wat beskikbaar gemaak is vir hierdie doel. Beamptes sal die transaksies verifieer en aanstuur vir prosessering.
Grootmaattransaksies word tans na-ure gedoen aangesien daar tans slegs ‘n beperkte aantal transaksies gedurende kantoorure gedoen kan word.
Die George-munisipaliteit verstaan die frustrasie, maar doen werklik alles om te probeer om lisensies so spoedig moontlik uit te reik, gegewe die beperkings wat deur die Covid-19-pandemie op die oorblywende aantal amptenare het.
VORIGE ARTIKEL: KRISIS MET LANG RYE VOOR LISENSIEKANTOOR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'