Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die ry mense wat voor die hekke van die munisipale voertuiglisensiekantoor aan die onder punt van Hiberniastraat staan en wag is genoeg om enigeen se moed te breek.
Verteenwoordigers van plaaslike motorhandelaars is hoogs gefrustreerd omdat dit deesdae weke neem om ’n voertuig te registreer.
"Vir ons is die aanlynopsie nie 'n opsie nie," het die een vrou gesê.
"Ons gaan waarskynlik nou ’n tender verloor omdat hierdie kliënt nie sy R1 miljoen-trok kan gebruik nie."
Die verteenwoordiger was verlede week ook by die lisensieafdeling, maar moes noodgedwonge na ses ure se wag in die gebou met leë hande terugkeer werk toe.
Volgens diegene wat vandag voor die hekke wag word slegs 50 mense vandag gehelp. "Soms is jy reeds binne en wag 'n hele dag, maar word steeds nie gehelp nie.
"Daar is te min kassiere en die nood is groot," het 'n man gesê wat ook 'n handelaar verteenwoordig.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens 'n man wat namens ander besighede aansoeke hanteer, moet 'n mens so vroeg soos 04:00 reeds voor die hek wag as jy enigsins 'n kans wil hê. "Ek glo nie aan die aanlynstelsel nie," het hy gesê.
"Jy wag weke en dan loop jy die gevaar dat jy nooit jou lisensie kry nie. Pos kom nie meer by 'n mens uit nie."
Versoek om kommentaar oor die aangeleentheid word aan George-munisipaliteit gestuur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'