Update
GEORGE NUUS - "Daddy, ek wil die ewige rus gaan rus," was sy laaste woorde aan sy ouers die Woensdagmiddag voor Bronwill Jafta (33) sy eie lewe geneem het.
Vier jaar ná hul dogter wreed deur haar kêrel aangerand, verkrag en vermoor is, moes Ben en Rina Jafta van Parkdene, hul enigste seun ook aan die dood afstaan.
Jafta, wat onder sy geliefdes as Bobo bekendgestaan het, se liggaam het omstreeks 15:00 Donderdag-middag, 16 November, by die getypoel in Heroldsbaai uitgespoel ná hy die vorige nag in sy VW Golf GTI by 'n krans op die Voëlklip-pad afgestort het.
Sy suster, Rencia Jafta (37), is in 2019 wreed vermoor deur haar kêrel, Grant Robertson. Robertson is in Mei verlede jaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Volgens die Jafta-egpaar is die rede vir hul seun se dood die feit dat hy nie die dood van sy suster kon verwerk nie.
Bronwill Jafta se suster, Rencia, is in 2019 wreed vermoor.
"Hulle was baie na aan mekaar. Hy was nooit 'n probleemkind nie, hy was maar net stil," het Ben Jafta vandeesweek aan George Herald gesê.
"Hy was baie gewild en geliefd onder sy vriende en na hulle uitgevind het wat gebeur het, het hulle almal hier by ons huis kom huil. Die trane het gestroom soos hulle oor hom gepraat het," vertel Jafta.
Beamptes by die krans waar Jafta se voertuig afgestort het.
Nooddienste Donderdag 16 November op die toneel.
Volgens Jafta het Bronwill die Woensdagmiddag voor sy dood vreemd opgetree.
"Ek en my vrou het met hom probeer gesels oor wat hom pla. Dis toe dat hy sy hande op sy bors slaan en vir ons sê hy wil die ewige rus gaan rus. Daarna is hy weg by die huis en het nie Woensdagaand huis toe gekom nie. Ons het aangeneem hy slaap oor by sy meisie, soos wat hy gereeld in die verlede gedoen het," sê Jafta.
Die nare realiteit het egter die volgende dag tot die Jaftas deurgedring toe die polisie hulle vertel het dat hul seun oorlede is.
"Dis 'n pyn wat geen mens kan verstaan as jy nie self daardeur gaan nie. Ons is steeds in skok en ongeloof en ons sukkel om alles te verwerk," het die Jafta-egpaar, wat daagliks probeer vrede maak met hul dogter se ontydige dood, gesê.
Bronwill laat sy dogter (8), sy seun (14), sy suster, Celeste, sy ouers en sy ouma en oupa agter.
Bronwill Jafta by sy Golf GTI wat hy onlangs gekoop het.
Begrafnisreëlings
'n Huisdiens word Saterdag 25 November om 09:00 by die Jaftas se huis, Snakestraat 21, Parkdene, gehou waarna die begrafnis-diens om 10:00 in Hoërskool Parkdene se skoolsaal gehou gaan word.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’