Update
GEORGE NUUS - Die jong kankerlyer, Henrian Müller (23), het Saterdagoggend die stryd teen dié gevreesde siekte verloor.
Müller en sy ma, Elaine van der Merwe, het in Maart 2016 van Pretoria na George verhuis om 'n nuwe begin te maak. Müller is egter in 2018 met testikulêre kanker gediagnoseer.
Die groeisel is in April daardie jaar verwyder, maar weens finansiële stremming kon Müller nie terugkeer vir 'n opvolgondersoek nie.
Volgens sy ma het Henrian Dinsdagaand skielik begin siek word en is Vrydag in die hospitaal opgeneem na hy inmekaar gesak het.
“Tydens die ondersoek het hulle ‘n groot gewas op sy long gekry, sy buik was ook vol bloed. Henrian is Vrydagnag na die hoësorgeenheid geskuif,” vertel Van der Merwe.
Saterdagoggend het sy wakker geword met ‘n oproep van die hospitaal.
“Hulle het gesê ek moet dadelik kom. Dat dit nie goed gaan met Henrian nie. My seun het, terwyl ek sy hand vasgehou en met hom gesels het, saggies heengegaan. Ek het dit nie eers agtergekom tot die dokter vir my kom sê het hy is weg nie. Hy het so mooi gelyk. So vreedsaam. Dit was moeilik om hom daar te los.
Henrian het in Februarie ‘n valskermsprong in Mosselbaai gedoen. Dit was ook een van die items op sy wenslysie. Sy broer en skoonsuster het saam met hom gegaan.
‘n Gedenkdiens word môremiddag, Dinsdag 14 Mei, op die dek langs Oud en Jonk Restaurant by die George-kwekery gehou.
“Ons gaan dit baie informeel hou. Vriende en familie gaan bymekaarkom om sy lewe te vier. Ons gaan saam kuier en oor my kind gesels. Oor sy lag, sy sin vir humor en sy sterkwees. Ek is trots om hom my seun te noem. Om sy ma te kon wees was ‘n groot voorreg. Hy was baie geliefd,” sê sy ma.
Henrian Müller by Bennie Steenkamp (Motorcycle Madness), sy beste vriend, Carel Cronjé, sy ma, Elaine van der Merwe, Craig Anderson (Landy World) en Rudolph Koekemoer (1st Auto) wat die rit in die Camaro moontlik gemaak het.
Foto's: Kristy Kolberg
Lees 'n vorige artikel: Kankerlyer se wense bewaarheid
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'