GEORGE NUUS - Met 'n tekort aan polisiebeamptes, ondersoekbeamptes en sigbare polisiëring, beurtkrag en Pacaltsdorp-polisiestasie se fone wat min in 'n werkende toestand is, gaan Pacaltsdorpers gebuk onder misdaad.
Dit is die algemene gevoel in dié woonbuurt waar, volgens inwoners, owerhede nie hul veiligheid prioritiseer nie.
In 'n versoekskrif wat verlede Donderdag 2 Maart tydens 'n noodvergadering aan die Tuinroete-distrikskantoor se hoof van die operasionele kamer, lt.kol. Lionel Kennedy oorhandig is, word talle gebreke, uitdagings en probleme wat inwoners ondervind, uitgelig.
Suid-Kaapse polisiewoord-voerder sers. Chris Spies het ontvangs van die skrywe bevestig. "Daar is kennis geneem van die inhoud van die brief en dit sal met die skrywer bespreek word," sê Spies.
Probleme by polisiestasie
Volgens die voorsitter van Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Charly Daman, is daar sommige dae slegs een polisiebeampte aan diens en moet die dienssentrum gesluit word wanneer daardie beampte uitgeroep word. Beurtkrag veroorsaak ook sekere uitdagings wat die veiligheid van die beamptes wat aan diens is, dikwels vroue, in gevaar stel.
"Die telefone werk meeste van die tyd nie en dit los die publiek met geen manier hoe hulle die polisie kan kontak nie. Die gemeenskap dreig om die wet in hul eie hande te neem weens die groot tekort aan sigbare polisiëring. Die gemeenskap is gefrustreerd en ek verstaan dit. Ons weet nie meer na wie toe om te draai nie," sê Daman.
Noodvergadering
Die noodvergadering, gelei deur Daman, volg ná 'n Go George-bus verlede Woensdag, 1 Maart met twee petrolbomme bestook is. Elf mense het tydens die voorval erge brandwonde opgedoen en is gehospitaliseer. Meeste van die beseerdes is reeds ontslaan en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In Januarie vanjaar was daar gewelddadige aanvalle onder hoërskoolleerders, in Desember verlede jaar is die liggame van twee jong mans naby die Schaapkoprivier gevind en vroeër vanjaar 'n derde een in dieselfde gebied.
In Desember is daar 'n man deur 'n groep in Andersonville oorrompel en doodgeskiet en in 'n meer onlangse voorval is daar talle huise in Rosedale gedurende beurtkrag deur vandale getakel.
'n Vrou se liggaam is ook verlede Vrydag in 'n veld naby Crescent-rylaan gevind.
"Ons voel werklik Pacaltsdorp suig aan die agterspeen. Ons geld is goed genoeg, maar ons veiligheid is nie 'n prioriteit vir die owerhede nie," het Daman gesê.
Teleurgesteld
Daman sê hulle is egter teleurgesteld omdat die George-munisipaliteit en verteenwoordigers van Go George nie die vergadering bygewoon het nie.
"Dit voel so asof die gemeenskap se versoeke en klagtes op dowe ore val en in die tussentyd gaan ons gebuk onder toenemende misdaad en geweld. Dit kan eenvoudig nie meer so aangaan nie. Daar moet nóú ingegryp word voor dit te laat is," sê Daman.
Die munisipaliteit se kommunikasiehoof, Chantel Edwards, het by navraag gesê die George-munisipaliteit het nie die vergadering bygewoon nie, want hulle vereis dat uitnodigings betyds deur amptelike kanale gestuur moet word.
"In hierdie geval is dit nie gedoen nie. Die munisipaliteit reageer slegs op uitnodigings wat aan die betrokke direkteur gestuur word met 'n duidelike agenda," sê Edwards.
Sy het ook verduidelik dat die George-geïntegreerde openbare vervoernetwerk (GIPTN) staatmaak op, en saam met die munisi-pale wetstoepassing, verkeer en ander veiligheids- en sekuriteits-belanghebbendes werk wat veiligheids- en sekuriteitsplanne in George implementeer.
Misdaad en geweld wat ekstern plaasvind, is nie onder die beheer van die Go George-diens nie. Die polisie is 14 dae gegee om op die skrywe te reageer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'