GEORGE NUUS - 'n Groep van sowat 20 munisipale werkers het verlede Vrydag in die gietende reën voor die departement van omgewingsake in Meadestraat gestaak.
Volgens die groep se verteenwoordiger, Joanie Visagie-Jantjies, het die staking van 8:30 tot 9:30 onwettig plaasgevind, waarna die werkers terug is na hul onderskeie afdelings.
"Die reën was 'n probleem, die mense het maar terug werk toe gegaan," het Visagie-Jantjies gesê.
Die groep het glo in Julie 'n griefskrif aan die munisipale bestuurder, Trevor Botha, oorhandig waarin hulle onder meer kla dat hulle werk in posisies waarvoor hulle nie vergoeding ontvang nie. Blykbaar wou die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks - ook die direkteur van omgewingsake - nie die groep vanoggend te woord staan nie. "Hulle voel daar word nie ag geslaan op hulle probleme nie," het Visagie-Jantjies gesê.
"Beamptes van wetstoepassing het vanoggend met die groep kom praat en hulle aangeraai om 'n ander verteenwoordiger te kry, aangesien ek nie 'n personeellid van die munisipaliteit is nie, en ook nie 'n lid van die vakbond Samwu nie."
Die George Herald het onlangs berig oor die ontevredenheid van werkers van omgewingsake, wat reken hulle departement is "baie deurmekaar".
Die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê die munisipaliteit sal nie kommentaar lewer op interne personeelsake nie. "Neem asseblief kennis me. Visagie-Jantjies is nie 'n munisipale werknemer en of 'n lid van 'n erkende vakbond nie, daarom is haar kommentaar irrelevant vir die munisipale prosesse wat gevolg moet word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'